21:00 - 21:10

Nuus & Weer

Nou op die lug: 21:10 - 21:20

Laataandboekvoorlesing

Volgende: 21:20 - 22:10

Musiekbonbons

Met Terrance April

22:10 - 22:30

Islam in Fokus

Met Shahieda Carlie

Tuis | Potgooi | Potgooi Episode

Soek nog potgooi

Radioteater

Donderdag 6 Mei 2021

ROTS VAN VERSKRIKKING, saamgestel uit die werk van Eugène Marais

Die bekroonde regisseur Ilsé van Hemert se verhoogproduksie, Uit die bloute, het in die jare 90 landwyd opslae gemaak. Hierdie werk, saamgestel uit die skryfkuns van die digter en joernalis Eugène Marais het so diep in kunstefeesgangers se harte gekruip dat dit later herleef het met ’n heel nuwe rolverdeling. Luister nou na hierdie sonderlinge produksie met Anna-Mart van der Merwe, Gys de Villiers en André Odendaal. Hierdie radioverwerking bevat ook die musiek, toonsettings en verwerkings van Marimba! (Abraham en Lizanne Helberg). Twee kortverhale van Marais kry verbeeldingryk gestalte in hierdie musikale drama. “Die lied van die reën” vertel die storie van die soeke na water en in “Salas y Gomez” word ’n jong boer vir maande vasgekeer op ’n rotslys, en hy moet al sy kragte inspan om fisiek en emosioneel te oorleef. Die plaaswerf, die berge van Mamatola en die diepste emosies van die karakters word deur musiek en byklanke ingekleur. Naas Van der Merwe en De Villiers kan Jahn Beukes gehoor word, wat die slaginstrumente bespeel. Die geselskap het self die byklanke behartig, en Ansa du Toit het die musiek opgeneem.

Donderdag 29 April 2021

MAKKIE ONTHOU deur Adelle van Wyk

Die drama is die wenner van die RSG/SANLAM Radiodrama-skryfkompetisie  van 2020.  Makkie Ghall word deur die polisie ondervra nadat ‘n lyk in haar werkgewer se swembad ontdek is. Vyftien jaar later maak ‘n vreemdeling onverwags sy verskyning, en kort daarna begin Makkie vreemd optree. Die waarheid kom mettertyd uit wanneer ‘n jong vriend en haar susterskind Makkie se storie begin ontrafel. Die spelers is June van Merch, Simoné Benjamin, Dann- Jacques Mouton, André Weideman en Marcel van Heerden.

Donderdag 22 April 2021

STERREREËN deur Hendie Grobbelaar

Die drama het die tweede prys ingepalm in die RSG/SANLAM Radiodrama-skryfkompetisie  van 2020. 'n Student se ma vra hom om haar huis op te pas terwyl sy oorsee is met vakansie. Dis 'n gulde geleentheid vir sy pêlle om die huis op horings te neem. Waarop hy egter nie gereken het nie is 'n beeldskone, eksentrieke meisie se bekoring met die misterie vir die buitenste ruim. Dit lei daartoe dat hy 'n klap van die heelal kry, en selfs met 'n pratende kat sit... of is dit alles die uitwerking van eksperimentele daggarokery?! Die akteurs is Luan Jacobs, Claudia Jones, Donovan Pietersen en Christo Compion.

Donderdag 15 April 2021

MORGENSTER deur Philip Nolte

Dit is 2040 en Suid-Afrika is onherkenbaar. ‘n Dispotie. Die post-pandemie regering het ekonomieë verander en kontroleer die land met ‘n diktatorshand. Provinsies is geskrap. Mure is rondom metropole gebou om die rykes en die armes te skei. Aardverwarming het veroorsaak dat somer verdwyn het, en dat winter die wêreld deur die jaar omhels. In die armsalige uitstedige uitbreiding, Morgenster, is die inwoners desperaat en moedeloos in die gehawende omstandighede van hulle bestaan. So ook die middeljarige pessimis, Benjamin, wat elke aand op ‘n straatbankie voor ‘n kafee slaap. Een aand val daar ‘n jong engel, Azrael, met net ‘n wit onderbroek per ongeluk uit die hemel, en Benjamin help hom onwillekeurig om terug te keer hemel toe. Maar hierdie reis tussen twee vreemdelinge word onopsetlik Benjamin se redding van sy bestaan. Benjamin se verlede word sy hede, sy toekoms verander en sy menslikheid word bevraagteken. En hy mag nie van Lucy vergeet nie... Die akteurs in die rolverdeling is: Johann Nel, Gideon Lombard, Kay Smith, Jana Kruger en Antoinette Kellermann.

Donderdag 8 April 2021

HULLE NOEM HOM MAMBA deur Adriaan Havenga

Wenner van die prys vir Beste Jong Skrywer in RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie van 2020. Elbie is ‘n kranige skrywer wat hoop om haar eerste boek te publiseer. Vanaand se afspraak met ‘n uitgewer kan haar en haar seun se lewe heeltemal verander. Alles moet reg verloop. Sy moet net gou winkel toe ry om bestanddele vir ‘n dis te koop – op die donker kronkellende paadjie tussen die dorp en haar kleinhoewe. Die tema van vrees en die verlammende effek daarvan op ons lewens word verken. Die spelers is Joanie Combrinck as Elbie, Wilhelm van der Walt as haar seun Lian, Andre Samuels as die Uitgewer, en Nadia Valvekens en Kay Smith in twee ander rolle.

POTGOOI (aanddiens)

INTERAKTIEF

Volg ons op sosiale media: