23:10 - 23:59

Tjil

Nou op die lug: 23:10 - 23:59

Deurnag (Saterdag)

Volgende: 05:55 - 06:00

Vroegoggendgedagte

06:00 - 10:00

Brêkfis met Derrich

Met Derrich Gardner

Tuis | Potgooi | Potgooi Resultaat
  • Program

Skrywers en boeke 17 April 2024

17 April 2024

Jeanette Ferreira vertel vir Ilse Salzwedel van die storie agter haar jongste roman, DIE MELKWEG EN DIE MISKRUIER. In Johan Myburg se internasionale insetsel kan jy meer uitvind oor Meta, die sosiale mediaplatform, se beweerde plan om ‘n bekende uitgewery te koop om hulle kunsmatige intelligensie-toepassing ‘n hupstoot te gee. Johan het ook vir jou nuus oor die kortlyste vir die International Booker en die Kanadese Carol Shieldsprys. SARIE se boekeredakteur, Phyllis Green, gesels oor vier boeke wat sy vir luisteraars kan aanbeveel: DONKERTYD (Mariël le Roux), DIE BEWEGING VAN BLOED (Pieter Stoffberg), LOVE AND FURY (Margie Orford) en PAINTING A LIFE IN AFRICA (Joan van Gogh).


Skrywers en boeke 10 April 2024

10 April 2024

Ilse Salzwedel gesels met Marina Auer, ‘n nuwe stem in Suid-Afrikaanse misdaadfiksie, oor haar roman DOUBLE EDGED. Theo Kemp vertel waarna lesers kan uitsien by vanjaar se Suidoosterfees-boekprogram. In sy internasionale bydrae vertel Johan Myburg hoe beroepswedders reeds spekuleer oor vanjaar se Nobelpryswenner. Hy bring ook hulde aan Maryse Condé, en vertel meer oor die Windham Campbellprys vir fiksieskrywers, wat aan die Ierse skrywer Deidre Madden toegeken is. Jy kan ook uitvind watter skrywers op die kortlyste is vir vanjaar se vier letterkundepryse van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.


Skrywers en boeke 3 April 2024

3 April 2024

Ilse Salzwedel gesels met Chanette Paul oor ANONIEM, haar vyftigste roman wat pas verskyn het. Stefaans Coetzee, wat onlangs aangewys is as Netwerk24 se smaakmaker van die jaar vir die boekbedryf, gesels oor sy liefde vir boeke en hoe dit sy lewe verander het. In sy internasionale bydrae vertel Johan Myburg meer oor die kortlyste vir die Dublin- en Aspen-letterkundepryse, en ‘n nuwe roman wat oorsee hoog aangeskryf word. Jy kan ook luister na ‘n ou voorlesing van ‘n Keats-gedig deur die aktrise Lynn Redgrave.


Skrywers en boeke 27 Maart 2024

27 Maart 2024

Ilse Salzwedel gesels met Zirk van den Bergh oor sy jongste roman HEMEL EN AARDE EN ONS. Resensent Francois Bekker deel sy indrukke van STILTES EN STEMME, saamgestel deur prof. Willie Burger, wat handel oor die werk van Karel Schoeman, en Lize Albertyn-Du Toit se tweede roman, DUIFELING. Johan Myburg vertel in sy internasionale insetsel onder andere meer oor die kortlys van die Dylan Thomasprys,  die Spaanse FORMENTOR-letterkundeprys en WOMEN, LIFE, FREEDOM, ʼn strokiesprenteboek oor Masha Amimi, ‘n jong Iranse vrou wat in aanhouding dood is.


Skrywers en boeke 20 Maart 2024

20 Maart 2024

Ilse Salzwedel gesels met Sidney Gilroy oor sy jongste spanningsroman BLOEDSOMER. Die wenners van LAPA se jeugromanwedstryd, Fanie Viljoen, en die drie naaswenners, Zelda Bezuidenhout, Jacolet van den Bergh en Annerle Barnard, vertel meer oor hulle wenboeke.  In sy internasionale bydrae het Johan Myburg nuus oor die International Bookerprys vir vertaalde werk se langlys, ‘n gesogte Nederlandse letterkundeprys wat toegeken is aan die digter en skrywer Tom Lanoy, en die wenners van die Writers’ Prize, die letterkundeprys wat voorheen bekend was as die Rathbones Folio-prys.


Skrywers en boeke 13 Maart 2024

13 Maart 2024

Ilse Salzwedel gesels met die digter, skrywer, akademikus en resensent, Joan Hambidge, oor haar jongste roman, STASIES. Jy kan ook luister na ‘n argiefopname van 1974 waarin Elisabeth Eybers van haar eie gedigte voorlees. In sy internasionale bydrae gesels Johan Myburg oor die langlys vir die Britse Women’s Prize for Fiction, en ‘n nuwe roman uit die pen van Gabriel García Márquez, tien jaar na sy dood. Jy kan ook luister na ‘n kort gedeelte uit FOUR QUARTETS, T.S. Elliot se bekende gedig, soos voorgelees deur die akteur Jeremy Irons.


Skrywers en boeke 6 Maart 2024

6 Maart 2024

Charmaine Africa se meesleurende en aangrypende memoir, AMMA, is ‘n boek wat jy nie sommer sal vergeet nie. Sy gesels daaroor met Ilse Salzwedel.  In ‘n kykie na ‘n Afrikaanse skrywer uit die verlede, kan jy luister na ‘n gedeelte van ‘n 2016-onderhoud met Abraham de Vries, meester van die kortverhaal. In Johan Myburg se internasionale bydraes is daar iets oor FOURTEEN DAYS, ‘n roman wat in New York afspeel en waaraan 36 bekende skrywers (soos Margaret Atwood, Celeste Ng, Douglas Preston en  John Grisham) saam geskryf het. Hy vertel ook meer oor Sally Rooney se nuwe roman, INTERMEZZO, wat later vanjaar verskyn. Liefhebbers van historiese fiksie kan uitvind watter boeke op die langlys van die Sir Walter Scott-prys is. 


Skrywers en boeke 28 Februarie 2024

28 Februarie 2024

Ilse Salzwedel gesels met die wêreldbekende profileerder, dr. Micki Pistorius, oor die heruitgawe van haar boek oor reeksmoordenaars, CATCH ME A KILLER. Daar is internasionale boekenuus, onder andere ‘n boek oor klimaatsverandering deur die Suid-Afrikaner Adam Welz. wat oorsee baie aandag trek. Die kinderboekskrywer David Walliams kom Suid-Afrika toe, en Tsitsi Dangarembga se eerste roman word in Shona vertel. Johan het ook nuus oor ‘n nuwe misdaadfiksie-reeks uit die pen van Richard Osman. En as jy jou kortverhaal wil inskryf vir vanjaar se Woordfeesbundel, Suzette Myburg het vir jou meer inligting.


Skrywers en boeke 21 Februarie 2024

21 Februarie 2024

Ilse Salzwedel gesels met Anoeschka von Meck oor haar nuwe roman, TWA DIE TYDLOPER, en SARIE se boekeredakteur Phyllis Green deel haar indrukke van die roman. Gys Visser, hoof van NB Uitgewers se regsdienste, verduidelik hoekom ‘n onlangse hooggeregshoofuitspraak dit voortaan soveel makliker en vinniger sal maak om mense te vervolg wat elektroniese weergawes van boeke onwettig versprei en aflaai. Dibi Breytenbach en Sidney Gilroy, twee skrywers wat hard baklei het dat vervolging moet plaasvind, gee ook hulle mening. Johan Myburg deel goeie nuus oor Gen Z in Brittanje se leespatrone, en vertel meer oor die skrywer Khaleid Hossini se pleidooi teen sensuur.


Skrywers en boeke 14 Februarie 2024

14 Februarie 2024

Kristel Loots, gewilde skrywer van verhoudingsromans, gesels met Ilse Salzwedel oor die liefde, en of moderne vroue steeds oor romantiese liefde wil lees. Elna van der Merwe gesels oor die Stilbaai-boekefees wat van 23 tot 25 Februarie gehou word. Johan Myburg gesels oor die wenners van die Neropryse, ‘n Japanese roman wat gedeeltelik met die hulp van ChatGPT geskryf is, en vier nuwe Engelse vertalings van die romans van Olga Tokarczuk. En het jy geweet die 14e Februarie word in 44 lande gevier as International Day of Book Giving?


POTGOOI (aanddiens)

INTERAKTIEF

Volg ons op sosiale media: