18:00 - 18:10

Nuus & Weer

Nou op die lug: 18:10 - 19:00

RSG Geldsake met Moneyweb

Met Ryk van Niekerk

Ryk van Niekerk

Volgende: 19:00 - 19:05

Nuus

19:05 - 19:15

Aandboekvoorlesing

Tuis | Potgooi | Potgooi Resultaat
  • Program

Vers en klank 21 September 2021

21 September 2021

Luister na gedigte uit ‘n bundel wat onlangs uitgegee is deur Turksvy Publikasies met die titel, Maskers en Mure. Dit bestaan uit 142 gedigte wat saamgestel is deur Daniel Hugo en Francois de Jongh. In Hugo Theart, artistieke direkteur: KKNK, se woorde: “Maskers en mure is ‘n uitsonderlike digbundel wat ‘n blik gee op ‘n waterskeidingstyd toe die wêreld deur ‘n pandemie lamgelê is. Die emosies en perspektiewe van 142 uiteenlopende digstemme maak hiervan ‘n tydkapsule vir toekomstige lesers. Hoofsaaklik bekende digters, maar ook nuwes, neem ons op ‘n emosionele reis waarmee ons eie ervaring van Covid-19 sal resoneer.” Ons gaan twee programme afstaan om te luister na die verse uit hierdie bundel. Johann Nel en June van Merch is die voorlesers.


Vers en klank 14 September 2021

14 September 2021

Luister na gedigte oor kindwees, groei en grootword, ouer wees, ouer word (in jare) en die siklus van die lewe. Ma en dogter Riélle en Karli Heine lees die verse voor. Die verse is gedig deur Annesu de Vos, Antjie Krog, Lina Spies, Ingrid Jonker, Ina Rousseau, N.P. van Wyk Louw en Charlene Truter. Jy kan ook uitsien na klanke deur Koos du Plessis, Karen Zoid, Laurika Rauch, Frieda Kruger, Stef Bos en Breyten Breytenbach.


Vers en klank 7 September 2021

7 September 2021

Waldemar Schultz lees gedigte deur Magmoed Darwiesj, soos vertaal deur Bester Meyer. In 2009 verskyn Breyten Breytenbach se bundel oor Magmoed Darwiesj: oorblyfsel / voice over wat hierdie Palenstynse digter aan ‘n Afrikaanse en Engelse leserspubliek bekend stel. Sopas verskyn Bester Meyer se Die vlug van ‘n vreemdeling,  vertalings van Darwiesj in Afrikaans met inleidende refleksies deur Breytenbach en ‘n nawoord deur Shahd Abusalama. Meer as twintig digbundels en tien prosawerke verskyn uit hierdie krities bekroonde digter se pen en hy word beskou as die stem van sy mense en ‘n legende. Sy verse het wêreldwyd aanklank gevind by verskillende groeperinge en word deur sowel arbeiders as skoolkinders voorgedra. Die vlug van ‘n vreemdeling beslaan meer as 300 bladsye en vir die eerste keer kan die Afrikaanse leser die trefwydte en impak van die werk van hierdie belangrike digter in sy spreektaal ervaar. Dis uitgegee deur Naledi en ‘n kragtige stuk werk. In Joan Hambidge se woorde: “Bester Meyer se vertalings is aangrypend-mooi.”


Vers en klank 31 Augustus 2021

31 Augustus 2021

Ons luister ons na verse en liedjies deur Koos Kombuis, of André Letoit (die skuilnaam wat hy vroeër gebruik het). Pieter van Zyl skuif agter die mikrofoon in en lees enkele van sy gunsteling gedigte uit drie van Letoit/Kombuis se bundels voor.  “Eers was daar André le Roux du Toit wat in 1981 saam met Daniel Hugo, Peter Snyders en Etienne van Heerden in Brekfis met vier sy poetry die wêreld ingestuur het.” Onder die skuilnaam André Letoit het Suburbia in 1982 en ‘n tweede druk daarvan is in 2003 uitgegee. Hierdie bundel is toe gevolg deur Die geel kafee in 1985. In Dewald Koen se woorde: “Allawêreld! Daar kom Afrikaans se eie Beat generation-poet toe na vore met sy lekker loslit vrye verse vol surrealisme en dekadensie.” In 2018 verskyn die bundel Vandag wil ek my blou skoene dra.


Vers en klank 24 Augustus 2021

24 Augustus 2021

Susanne Beyers skuif agter die mikrofoon in en lees enkele van haar gunsteling gedigte voor. Jy kan uitsien na verse deur Marlene van Niekerk, Elisabeth Eybers, Wilma Stockenström, Antjie Krog, Lina Spies, Luuk Gruwez, Philip de Vos en Olga Kirsch.


Vers en klank 17 Augustus 2021

17 Augustus 2021

Ons hoop dat hierdie aflewering ʼn eerste van sy soort sal wees in ʼn reeks wat fokus op plekke en streke wat as tema of gebeureruimte dien in die poësie van ʼn verskeidenheid Afrikaans digters – op die digterskontreie van Afrikaans, as’t ware. Jy kan uitsien na gedigte deur De Waal Venter, Totius, D.J. Opperman, S.J. Pretorius, Heidi Papadopoulus-Pienaar, Lewies Botha, Barend Toerien, I.L. de Villiers, Elisabeth Eybers, Emma Bekker.


Vers en klank 10 Augustus 2021

10 Augustus 2021

Chris van Niekerk skuif agter die mikrofoon in en lees enkele van sy gunsteling gedigte voor, met toevallig (of nie?) die leitmotif van die liefde. Jy kan uitsien na verse deur Breyten Breytenbach, N.P. van Wyk Louw, Ronnie Belcher, Peter Blum, Tessa Louw, Henning Pieterse, Churchil Naudé, M.M. Walters en Jeanne Goosen.


Vers en klank 3 Augustus 2021

3 Augustus 2021

Ons luister na gedigte deur Willem de Swyger. Hy is ’n voltydse regsgeleerde en ’n deeltydse sanger-liedjieskrywer, wat saam met sy gesin in die Eikestad woon. Nic de Jager lees ‘n paar van sy verse voor. Ons hoor ook verse begelei deur musiek, en toonsettings en liedjies op sy album, Kaalvoet, wat in 2020 die lig gesien het. As jy vir Willem vra hoe hy oor die album voel, haal hy graag die woorde van Beethoven aan: “Uit die hart het dit gekom, mag dit weer die hart bereik.”


Vers en klank 27 Julie 2021

27 Julie 2021

Juanita Swanepoel lees gedigte voor van Olga Kirsch, die Jodin wat in Afrikaans gedig het al het sy die grootste deel van haar lewe in Israel deurgebring. Daniel Hugo skryf: “Die Afrikaanse digkuns is einde(r)loos en verryk deur sy “balling”digters: Elisabeth Eybers, Breyten Breytenbach, Barend J. Toerien, P.J. Philander, Sheila Cussons. Ook Olga Kirsch is meer as net ‘n “oorwinteraar in die vreemde”; sy is ‘n digter vir alle seisoene.”


Vers en klank 20 Julie 2021

20 Julie 2021

Ons bring hulde aan een van ons grootste skrywers en digters, Petra Müller, wat in Junie 2021 oorlede is.  Jy kan uitsien na ‘n wye verskeidenheid van gedigte en kort prosa deur Petra Müller wat voorgelees word deur Juanita Swanepoel, Margot Luyt, Anna-Mart van der Merwe, Joanie Combrink, Rolanda Marais, Marion Holm, Cintaine Schutte, Karli Heine, Elmari Johnson, Lise-Mari van Wyk en Jana Kruger.


POTGOOI (aanddiens)

INTERAKTIEF

Volg ons op sosiale media: