4 porsies
Ek het geen idee hoe hierdie kerrie smaak as hy koud is die dag ná die braai nie. My gaste verorber hom sommer dadelik. Die verhouding goeie kos tot moeite is ook baie hoog, en as dit jou meer as ’n uur neem van die eerste stap tot jy opskep, doen jy iets verkeerd. Die varknektjops is klaar sag, so hulle hoef nie ure te prut nie. Die twee sopies medium kerriepoeier in die resep is nie ’n drukfout nie, so gooi alles by. Medium kerriepoeier het regtig nie baie brandrissie in nie. As jy soveel bygooi, gee dit die maaltyd lekker baie geur, maar is die gevaar dat jy of jou gaste julle monde sal verbrand nie groot nie.