Spoel die netvet in warm water af. Indien dit hard is, laat lê dit in water tot sag. Sny die lewer en niertjievet in baie klein blokkies of maal dit fyn.
Week die broodkrummels in die melk tot sag.
Voeg die broodmengsel by die lewer saam met die res van die bestanddele, behalwe die netvet.
Sprei die netvet op ’n kapplank oop en sny die dikste vet gedeeltes uit. Gebruik die dunner vet gedeeltes en sny dit in ‘lappies’ van 10 cm x 10 cm.
Skep ’n opgehoopte lepel lewermengsel op elke stuk netvet en vou die vulsel in die netvet toe.
Steek vas met peuselstokkies en werk toe met growwe garing.
Braai 15 minute oor matige kole totdat die vet bros gebraai en goudbruin is.
Wenk: Dit kan ook in die oond gebak word vir 30 minute teen 180 °C.
Wenk: Braai suurlemoenhelftes oor die kole en bedien by die skilpadjies.