Ons gee hier die vulsel-hoeveelheid vir ‘n kleinerige varkboud. As jy ‘n groter varkboud wil gaarmaak, verdubbel gerus die hoeveelhede vir die vulsel.
Ons gee hier die vulsel-hoeveelheid vir ‘n kleinerige varkboud. As jy ‘n groter varkboud wil gaarmaak, verdubbel gerus die hoeveelhede vir die vulsel.
1 vars varkboud (1,6 – 1,8 kg), buitenste vel ingekeep (vra die slaghuispersoneel om vir jou die boud te ontbeen. As hulle gaaf is, sal hulle dit vir jou in ‘n net sit, sodat dit maklik is om dit in een netjiese stuk gaar te maak)
sout en varsgemaalde swartpeper
ongeveer 45 ml olyfolie, om die boud mee in te vryf
Vulsel
½ koppie gedroogte pere, in kleinerige stukkies gesny
½ koppie gerasperde sterk kaas, soos Gruyere of verouderde Cheddar
1 eetlepel Franse mosterd
4 groot gemmerkoekies (jy benodig sowat ⅓ koppie gemmerkoekiekrummels)
2 eetlepels (of ‘n bietjie meer) Mayonnaise, crème fraiche, suurroom of ongegeurde volroom jogurt
Verhit die oond tot 180 grade Celsius.
Druk die varkboud droog met papierhandoeke (moenie die vleis onder die kraan was nie, dis nie nodig nie).
Vryf ‘n bietjie sout in die holte waar die been uitgehaal is.
Pols die gemmerkoekies in ‘n voedselverwerker taamlik fyn, of kap dit in ‘n plastieksak met ‘n koekroller tot klein krummels.
Meng al die vulselbestanddele, en voeg net-net genoeg mayonnaise of suurroom daarby om dit goed aan te klam. Dit moet ‘n sagte vulsel wees, nie styf nie, maar ook nie loperig nie.
Steek die een kant van die boud waar die holte is, toe met tandestokkies. Dit sal keer dat die vulsel daar uitloop.
Stop die vulsel in die holte, sodat dit lekker vol is.
Steek nou die ander kant van die holte ook toe met tandestokkies om die vulsel binne te hou.
As die slaghuis die boud vir jou in ‘n net gegee het, sit dit terug in die net.
As jy nie ‘n net het nie, druk die boud in ‘n mooi, effense ronderige vorm, en bind dit goed vas met tou om die voem te behou.
Maak seker die buitenste velletjie is kurkdroog (want jy soek lekker bros krakeling) en vryf dit in met genoeg sout, peper en olyfolie.
Plaas die boud in ‘n oondbak en oondbraai dit oop, sonder bedekking, vir ongeveer 1 uur en 45 minute.
Bereken die oondbraaityd so: Vir elke kilogram rou varkvleis moet dit een uur in die oond wees. Jy kan ook werk op 30 minute vir elke 500 g vleis. ‘n Boud van 1,6 kg sal dus 1 uur en 40 min in die oond wees.
Aan die einde van oondtyd, voeg nog so 10 minute by, veral as die vel nog nie heeltemal bros en bruin is nie. In hierdie ekstra 10 minute kan jy die boonste oondrooster aanskakel, indien nodig, om die vel bros te maak.
Haal die boud uit en laat dit vir 10 minute rus.
Verwyder die tou, tandestokkies en net, en sny dit in dunnerige skywe.
Bedien met vleissous en aartappels en/of gebakte appels, of appelsous.
As dit moontlik is, kan jy ook tydens die laaste 25 – 30 minute se oondtyd vier of ses geskilde aartappels, in die lengte in die helfte gesny en liggies met sout gegeur, onder in die oondbak saam met die varkboud sit. Die aartappels sal heerlik bruin en geurig saam met die varkboud bak, en alles sal gelyk gaar wees.
* Verpligte velde
Aanbieders
E-nuusbrief
E-nuusbrief
Teken in op die RGS E-nuusbrief
E-nuusbrief
Teken in op die RGS E-nuusbrief
Bel Ons
(011) 714 2702
Navrae
info@rsg.co.za