Terrance April vertel meer oor die Nigeriese skrywer, Kole Omotoso, wat al jare lank in Suid-Afrika woon en meer bekend is as die goedige oom in die Vodacom-advertensies. Die joernalis Ilse Salzwedel wat al verskeie pryse gewen het vir haar besondere bydrae tot die Afrikaanse joernalistiek, vertel meer oor haar boek, Onvertelde stories van Afrikaans. Sy vertel waar hierdie stoies vandaan kom en wie se stories dit is en sy sê ook waarom hierdie stukkies van onvertelde geskiedenis van Afrikaans so belangrik is. Het jy geweet dat die naam Thabo, vreugde beteken? En Tladi beteken weerlig – ‘n naam wat gegee word aan een wat gebore is op ‘n dag wat daar donder en weerlig was. Phumi Simelani-Kalumba het ‘n woordeboek van Suid-Afrikaanse inheemse name saamgestel met hulle betekenisse en oorspronge. Dis ‘n boek en naslaanbron wat kulturele konteks en geskiedenis fassinerend verweef, insluitend benoemingsrituele, en huishoudelike dispute waaruit name dikwels voorkom. Op dié manier word die boek ‘n belangrike etnografiese dokument. Corina van der Spoel het met Phumzile gesels oor haar boek, Jabulani Means Rejoice.