RESEPTE
Julio se koffie-en-koeksister-roomys
(Vir ongeveer 1,3 kg roomys - ek werk op gewig, nie inhoudsmaat nie)
Bestanddele
5 vars jumbo eiers
50 g strooisuiker
500 g room
500 g melk
50 g koffie-aftreksel*
250 g koeksisters, fyngekap
*Koffie-aftreksel:
Dubbel espresso
50 g bruinsuiker
Metode
Om die koffie-aftreksel te maak:
Kook die espresso en suiker saam tot dit 'n stroop vorm.
Laat dit afkoel.
Om die roomys te maak:
Klits die eiers en suiker saam op die hoogste spoed tot die suiker opgelos is.
Verminder die menger se spoed, en voeg die room stadig by.
Voeg die koffieaftreksel by.
Voeg die melk by, en klits tot alles goed gemeng is.
Plaas die roomys in ‘n houer in die yskas vir agt uur om die smake goed te laat meng.
Ek gooi dit daarna in 'n propperse Italiaanse roomysmasjien, en maak die roomys.
As jy 'n ander roomysmasjien het, volg die intruksies.
As jy nie 'n roomysmasjien het nie, plaas die mengsel in die vrieskas, en meng dit elke 45 minute deurmekaar per hand om die yskristalle te breek.
Gaan koop met jou volgende salaris ’n roomysmasjien!
Terwyl die mengsel nog effe loperig is (voordat dit heeltemaal gevries is), meng die gekapte koeksisters by.
Die kroek-metode:
Koop 2 liter ordentlike vanieljeroomys, en laat dit redelik ontdooi (hoe meer dit ontdooi hoe makliker kan jy dit meng, maar dan moet jy langer stoei om die yskristalle af te breek)
Voeg 50 g goeie kitskoffiepoeier en 250 g gekapte koeksisters by, en meng goed.
Vries.
Toets na 45 minute, en roer deur om yskristalle af te breek.