Skip to content

Barend se voorgereg

RESEPTE

Barend se voorgereg

Johann Smith

Ek deel graag ‘n resep wat ek by ‘n vriend, Barend, gekry het. Op die oog af lyk dit baie vreemd, maar die kombinasie van geure was vir my ‘n aangename verrassing. Die feit dat dit so maklik is om te maak, was ook vir my ‘n bonus. Dit is ‘n lekker ligte happie – ideaal vir ‘n voorgereg, hors d'oeuvres of happies by ‘n braai. Die resep kan maklik vermenigvuldig word na gelang van die behoefte.

Bestanddele

hoenderborsies, sonder vel
‘n Lang brood, soos ’n baguette
‘n Geurige kaas, soos verouderde Cheddar (genoeg vir elke sny van die brood)
Parmaham (genoeg vir elke sny van die brood)
knoffelhuisie
appelkooskonfyt
sout en peper

Metode

Sprinkel/smeer ‘n bietjie olyfolie op die hoenderborsie.
Sprinkel sout en peper daarop, en bak tot gaar. ‘n Lugbraaier of ‘n oond kan gebruik word – in my lugbraaier neem dit sowat 18 minute teen 180 grade Celcius.
Sny die brood in skywe van sowat 2,5 cm. Ek sny dit diagonaal om groter snye te kry.
Sprinkel elke sny met ‘n bietjie olyfolie.
Bak die snye in die oond teen 180 grade Celcius vir sowat 10 minute tot die bokant begin verkleur na goudbruin. ‘n Lugbraaier kan ook werk – kyk maar net gereeld na die brood om te verseker dat dit nie brand nie.
Sny ‘n knoffelhuise in die helfte deur en vryf die helfte oor die warm brood.
Smeer ‘n dik laag appelkooskonfyt op elke sny brood.
Sny ‘n dik sny kaas, en plaas dit op elke sny brood.
Plaas die snye in die oond, wat op “grill”-funksie gestel is, en rooster vir ‘n kort rukkie (gewoonlik sowat 5 minute) tot die kaas begin sag raak.
Sny die hoender in kleiner stukkies, draai elke stukkie toe in ‘n stukkie parma ham en plaas op elke sny brood.

Deel nou

Deel nou