Suid-Afrika se Hoë Kommissaris in Indië, Anil Sooklal, is deur die Departement van Internasionale Betrekkinge teruggeroep vir konsultasie. Dié stap hou verband met sy ontvangs van die vorige president, Jacob Zuma in Indië, en dat hy Zuma op 'n besoek aan die Gupta broers vergesel het. Die minister, Ronald Lamola het in Pretoria aan die media gesê 'n nuwe raamwerk is deur die Departement ontwikkel wat verband hou met die protokol wat in die verlede aan oudpresidente en adjunkpresidente toegestaan is oor buitelandse reise.
Die Parlement se afsettingskomitee is ingelig dat die parlementslid en leier van die National Coloured Congress, Fadiel Adams, deur die Parlement geskors is. Adams is vir 20 dae geskors vanaf 3 Augustus ingevolge die Wet op Bevoegdhede, Voorregte en Immuniteite van die Parlement en Provinsiale Wetgewers. Die inligting is verskaf om te verduidelik waarom Adams nie teenwoordig was by die vergadering van die afsettingskomitee om te stem oor 'n getuienisleier nie. Hy sal ná sy skorsing weer by die komitee aansluit.
Die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdiens- en Taalgemeenskappe het 'n beroep op die regering gedoen om begraafplase en helde-akkers te beskerm. Die Kommissie het gereageer op die vandalisering van die graf van die stigter van die PAC, Robert Sobukwe in Robert Sobukwe-dorp, voorheen Graaff-Reinet in die Oos-Kaap. Dit is die tweede keer vanjaar wat dié graf beskadig is. 'n Woordvoerder van die Kommissie, Sipho Mantula sê meer moet gedoen word om plekke van kulturele belang te beskerm en te bewaar vir huidige en toekomstige geslagte.
Die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake sê die visum van die Brasiliaanse ambassadeur in Washington is herroep. Dié stap is in reaksie op Brasilië se weiering om visums aan twee Amerikaanse amptenare toe te staan. Die twee wou Brasilië besoek om samesprekings te voer met een van die kandidate in die presidentsverkiesing wat in Oktober plaasvind, Flavio Bolsonaro. Die BBC berig dat Brasilië nog nie die Amerikaanse president, Donald Trump se voorgestelde nuwe ambassadeur in Brasilië, Daniel Perez, aanvaar het nie. Die jongste reeks diplomatieke geskille tussen die twee lande het die afgelope maande opgevlam ná die VSA weer handelstariewe teen Brasilië ingestel het, en die land se bendes as terreurorganisasies verklaar het.