Skip to content

Nuusbulletins

Die bestuurshoof van Agri Oos-Kaap, Brent McNamara, sê die swak paaie in die provinsie het 'n regstreekse negatiewe uitwerking op voedselsekerheid en die plaaslike ekonomie. McNamara het by die Agri Oos-Kaap kongres in Jeffereysbaai gesê die regering moet dringend aandag gee aan die paaie in die provinsie. Hy sê die padnetwerk is die slagare van die landbousektor, en as die paaie onbegaanbaar is, kan die sektor nie funksioneer nie. Hy sê in samesprekings met die premier, en die LUR'e vir Landbou en Vervoer, was daar eenstemmigheid dat die landbougemeenskap in 'n moeilike posisie is.

Suid-Afrika se Hoë Kommissaris in Indië, Anil Sooklal, is deur die Departement van Internasionale Betrekkinge teruggeroep vir konsultasie. Dié stap hou verband met sy ontvangs van die vorige president, Jacob Zuma in Indië, en dat hy Zuma op 'n besoek aan die Gupta broers vergesel het. Die minister, Ronald Lamola het in Pretoria aan die media gesê 'n nuwe raamwerk is deur die Departement ontwikkel wat verband hou met die protokolreëlings wat in die verlede aan oudpresidente en adjunkpresidente toegestaan is oor buitelandse reise. Lamola sê ingevolge dié nuwe raamwerk wat deur die Presidensie en die Departement ontwikkel is, sal oudpresidente en adjunkpresidente voortaan verplig wees om alle besonderhede oor voorgenome buitelandse reise bekend te maak.

Die administrateur van die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema, Hlengani Mathebula sê alles is in die stryd gewerp om probleme by die Skema op te los. Dit was die derde keer sedert 2018 wat die staat by die Skema moes ingryp. Mathebula sê hy het die afgelope drie maande met meer as 20 rolspelers beraadslaag, insluitend universiteite, studente en vakbonde. Hy het gister 'n plan om bestenigheid te bevorder, aan die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding oorhandig. Mathebula sê die plan sluit onder meer in dat meer as 70 duisend studente wat aan die NSFAS-kriteria voldoen, toegelaat word om te registreer. Hy sê sekere kategorieë studente by Universiteite van Tegnologie en Unisa moes wag tot die Skema toestemming gee dat hulle mag registreer.

Die 51-jarige Mohamed Seedad van Lenasia in Gauteng is tot vyf jaar tronksraf gevonnis weens die besit van smokkelsigarette. Seedat is in die Protea landdsroshof skuldig bevind aan die oortreding van die Wet op Doeane en Aksyn. Seedad is in April 2024 in hegtenis geneem nadat smokkelsigarette ter waarde van 71 duisend rand in sy besit gevind is. Die vonnis van vyf jaar is in die geheel opgeskort vir vyf jaar. Die Nasionale Vervolgingsgesag het die vonnis verwelkom en sê hy bly daartoe verbind om saam met ander wetstoepassers te werk om doeane-verwante misdaad te bestry en die integriteit van die land se fiskale en regulatoriese stelsels te beskerm.

Die watervlak van die Rynrivier in Duitsland het tot 'n nuwe rekordvlak gedaal. Die land se binnelandse skeepsvaartagentskap sê sommige vragvervoerdienste word gestaak, terwyl sommige met verminderde vrag per vaartuig voortgaan. Die vlak water beteken dat van die bote slegs 20 persent van hulle normale lading kan vervoer. Die Rynrivierroete word gebruik vir die vervoer van kommoditeite soos graan, brandstof en erts. Onlangs is berig dat soortgelyke probleme ook op die Donau-rivier voorkom.

Die Australiese regering het aangekondig dat hy die oorgang na hernubare energie gaan versnel. Dit sluit in dat die koste om sonpanele te installleer by fabrieke, pakhuise, sakeondernemings en op plase met 'n vyfde besnoei word. Met dié beleid word bestaande maatreëls vir individue ook uitgebrei. Sowat 'n derde van alle huise in Australië gebruik sonkrag, wat die hoogste proporsie ter wêreld is, en die verskaf 'n tiende van Austalië se energie. Die land se Minister van Klimaatverandering en Energie, Chris Bowen het in Canberra gesê die groter subsidies en afslag is 'n onmiddellike besnoeiing van die koste van energie. Hy sê dit vergroot die land se hernubare energievoorsiening en verlaag die afhanklikheid van steenkoolaanlegte.

Deel nou