Die N3-tolkonsessie het gewaarsku dat die sneeu, mis, reën en temperature onder vriespunt, dele van die N3 tussen KwaZulu-Natal en Gauteng vannag selfs gevaarliker sal maak. Sneeu het gedurende die dag op die N3 tussen Balgowan en Nottingham Road in die Middeland, sowel as in Van Reenenspas geval. Die konsessie se bedryfshoof, Thania Dhoogra, het padverbruikers aangeraai om hul reisplanne uit te stel waar moontlik. Sy sê swak sigbaarheid, die nat padoppervlak, dalende temperature en die risiko dat swartys op die pad kan vorm, maak dit nog gevaarliker om te reis.
City Power het 'n dringende beroep op inwoners van Johannesburg gedoen om hul elektrisiteitsverbruik te beperk aangesien die metro se kragnetwerk onder ernstige druk verkeer. Die nutsmaatskappy sê meer as tweeduisend gevalle van kragonderbrekings is reeds by sy agt dienssentrums aangemeld. Dit volg nadat die Weerdiens waarskuwings uitgereik het oor 'n koue front wat oor Gauteng inbeweeg het, met temperature van onder vriespunt wat vannag verwag word. Sneeu is ook moontlik. City Power sê inwoners kan die druk op die netwerk verlig deur krag spaarsaam te gebruik.
Die ANC se woordvoerder in Gauteng, Mzi Khumalo, is oorlede op die onderdom van 54. Die ANC sê hy is vanoggend vroeg in die hospitaal dood nadat hy by sy huis inmekaargesak het. Khumalo het tydens sy politieke loopbaan in die plaaslike regering, die Gautengse wetgewer en die provinsiale uitvoerende gesag gedien. Ná die verkiesing in 2024 het hy aangebly as lid van die provinsiale wetgewer, en is later aangewys as voorsitter van die Portefeuljekomitee oor Samewerkende Regering en Tradisionele Sake. Khumalo het ook as die ANC se woordvoerder vir Gauteng opgetree. Die party het sy dood as 'n verlies vir die organisasie en die mense van Gauteng bestempel, en medelye met die Khumalo-familie betuig.
Minstens 82 mense is dood nadat 'n kragtige aardbewing met 'n seismiese meting van 7-komma-4 die weste van Colombia aan die Stille Oseaan-kus getref het. Die hoogste dodetal is in die provinsie Risaralda aangemeld - 'n koffieverbouingsgebied - waar 42 mense omgekom het. Die episentrum van die aardbewing was in die Chocó-streek tussen die stede Cali en Medellín. Mense is steeds vasgekeer in Cali, waar minstens 30 geboue ineengestort het. Amptenare sê daar is geen tsoenami-gevaar nie, maar het gewaarsku teen moontlike naskokke. Vlugte van en na verskeie stede is gekanselleer so
Sokkerkonfederasies wat meer as die helfte van FIFA se lede verteenwoordig, het 'n skerp verklaring uitgereik oor die optrede van die president van die sportbeheerliggaam - Gianni Infantino. Die Asiatiese sokkerkonfederasie het by die beheerliggame van Europa, Noord- en Sentraal-Amerika en die Karibiese gebied aangesluit om kritiek teen hom uit te spreek. Die brief wat onderteken is deur die hoofde van drie konfederasies, sê die omstredenheid oor Infantino se voorstelle om die Wêreldbekertoernooi oop te stel vir privaat beleggings wat hy later laat vaar het, gaan oor die integriteit van die sport en die leierskap. Die brief sê leierskap in sokker is 'n diensplig, en wanneer vertroue geskend word, moet daar van daardie plig afstand gedoen word. Hoewel die brief nie die FIFA-president by die naam noem nie, sê interne bronne hy moet dit beskou as 'n geleentheid om sy posisie met waardigheid te verlaat.