Die regering het lede van die publiek aangemoedig om waaksaam te bly, terwyl nog sneeu, ysige toestande, reën en sterk wind vandag in verskeie dele van die land verwag word. Die gure weer het reeds tot verskeie padsluitings en ontwrigtings gelei. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het weerwaarskuwings vir verskeie provinsies uitgereik het, met toestande wat na verwagting gevaarlike reisomstandighede kan skep. Die regering se adjunk-woordvoerder, William Baloyi, sê weer- en padtoestande kan vinnig verander. Hy het die publiek gevra om op amptelike opdaterings van die Weerdiens, provinsiale verkeersowerhede, padagentskappe, rampbestuursentrums en nooddienste staat te maak vir die jongste inligting.
Drie bergpasse in die Oos-Kaap wat weens swaar sneeuneerslae gesluit was, is intussen weer oopgestel. Die jongste passe wat heropen is, is due Penhoekpas op die N6 tussen Komani en James Calata, en die Lootsbergpas op die N9 tussen Robert Sobukwe-dorp - voorheen Graaff-Reinet - en Middelburg. Gisteraand was die Barklypas op die R58 tussen Khowa en Barkly-Oos, en Boesmanshoekpas tussen Sterkstroom en Molteno steeds gesluit. Die provinsiale vervoerdepatement het motoriste gemaan om uiters versigtig te wees omdat die padoppervlakte steeds baie glad is.
Motoriste in dele van die Vrystaat is gevra om nie-noodsaaklike reise te vermy, omdat sneeu, reën en ysige toestande paaie gevaarlik maak. Sanral sê swaar sneeu het op dele van die N1 tussen Edenburg en Springfontein voorgekom, terwyl sneeu ook langs die N6 tussen Reddersburg en Smithfield aangemeld is. Sanral se woordvoerder, Lwando Mahlasela, sê die R702 tussen Dewetsdorp en Wepener is baie glad, terwyl reën die R34 tussen Welkom en Kroonstad beïnvloed, waar oorstromings kan voorkom. Die betrokke roetes was gisteraand* nog oop, maar tydelike sluitings is moontlik indien toestande versleg.
'n Senior lid van die Patriotic Alliance in Kaapstad, verskyn vandag saam met 'n vrou in die Bellville Landdroshof. Hulle word aangekla van aanranding en die oortreding van 'n hofbevel, ná 'n voorval Saterdag in Belhar. 'n Woordvoerder van die PA sê die partylid sal 'n verklaring uitreik nadat hy in die hof verskyn het.
'n Vyftigjarige vrou verskyn vandag in die Prins Albert-landdroshof nadat sy gister op aanklagte van dwelmhandel in hegtenis geneem is is. Die verdagte was 'n passasier op 'n bus wat by 'n kontrolepunt naby die dorp voorgekeer is. Polisiebeamptes het die bus deursoek en afgekom op 'n tas met bykans 39 kilogram dagga met 'n straatwaarde van meer as 300-duisend rand.
'n Noodtoestand is in Colombia afgekondig terwyl die dodetal na gister se kragtige aardbewing, tot minstens 132 gestyg het. Meer as 480 mense is ook beseer. Die aardbewing met 'n geologiese meting van sewe-komma-vier het die Chocó provinsie getref, maar is oor 'n gebied van honderde kilometer in die weste van die land gevoel. Meeste van die sterftes is in die stad Pereira, in Colombia se koffieverbouingsdistrik, waar minstens 65 geboue in duie gestort het. Daar word verwag dat die dodetal verder sal styg, aangesien mense vermoedelik nog in die puin van minstens 15 geboue vasgekeer is.