Skip to content

Nuusbulletins

Die Parlement se komitee vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake sal vandag die Wysigingswetsontwerp op Munisipale Strukture, ook bekend as die Koalisiewetsontwerp, bespreek. Die wetstontwerp poog om 'n raamwerk te skep vir die samestelling en bestuur van koalisieregerings in munisipaliteite, insluitend dat dat daar 'n geskrewe koalisie-ooreenkoms moet wees wat vir vyf jaar van krag is. Die wetsontwerp beoog ook om die aanstelling te beperk van munisipale ampsdraers wat nie die nodige ervaring, vaardighede of kwalifikasies het nie. Cosatu se parlementêre koördineerder, Matthew Parks, sê kwalifikasies is belangrik vir ingewikkelde munisipale kwessies.

Die Madlanga-kommissie se woordvoerder, Jeremy Michaels sê dit is onwaarskynlik dat die parlementslid en leier van die National Coloured Congress, Fadiel Adams, vandag voor die kommissie sal getuig. Adams het 'n dagvaarding ontvang om vandag voor die kommissie te verskyn. Michaels sê egter die getuienisleiers het eers gisteraand Adams se beëdigde verklaring en ander dokumente ontvang. Volgens Michaels sal die getuienisleiers na verwagting vra vir uitstel sodat hulle tyd het om die dokumente te bestudeer en Adams te raadpleeg voordat hy getuig. Adams is in getuienis voor die kommissie betrek by 'n Artikel 27-beëdigde verklaring wat gelei het tot die inhegtenisneming van sewe senior Misdaadintelligensiebeamptes.

Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, het inwoners in hoërisiko-gebiede gemaan om waaksaam te bly en nie-noodsaaklike reise te beperk te midde van gure winterweer en swaar sneeu in dele van die land. Sneeu, reën en koue weer in dele van die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en die Vrystaat het verkeer ontwrig en tot die sluiting van belangrike roetes gelei. Hlabisa het in 'n verklaring gesê dat die departement, in samewerking met die Suid-Afrikaanse Weerdiens en ander plaaslike regeringstrukture, sal voortgaan om ontwikkelings noukeurig te monitor en gekoördineerde reaksie- en hulpverleningspogings in die gebiede wat geraak word, te ondersteun.

Die saak teen die vermeende misdaadbaas, Nafiz Modack word vandag in die Hooggeregshof in Kaapstad hervat. Modack en 14 medebeskuldigdes staan tereg op meer as 100 aanklagte, insluitend geldwassery, afpersing en rampokkery. Hulle word ook aangekla van die moord op die speurder, Charl Kinnear in 2020. Een van beskuldigdes sal vandag met sy getuienis voortgaan.

Die Turkse parlement het 'n regsraamwerk goedgekeur vir die ontbinding van die Koerdiese militantegroep, die PKK. Dit word beskou as 'n belangrike stap om 'n dekades lange konflik te beëindig, wat meer as 40-duisend lewens geëis het. Die wetgewing bied beskerming aan voormalige vegters wat nie spesifieke misdade gepleeg het nie, en kan lei tot die opskorting van vonnisse vir diegene wat tronkstraf uitdien omdat hulle lede van die PKK was. Dit is die Turkse regering se mees konkrete stap sedert die leier van die PKK, Abdulla Ocalan in Februarie verlede jaar 'n beroep op die groep gedoen het om te ontwapen en te ontbind. Die PKK het in Mei verlede jaar aangekondig dat hy sy gewapende stryd sal beëindig. Koerdiese politici waarsku egter dat blywende vrede verdere demokratiese en regshervormings sal vereis.

Deel nou