Skip to content

Nuusbulletins

Die regering sê hy is besig om vas te stel wat die omvang is van skade wat aangerig is deur gure weer in dele van die land. Dit volg na swaar sneeuneerslae in dele van KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap. Hewige donderstorms is ook in verskeie provinsies aangemeld, insluitend Mpumalanga en Gauteng. Plaaslike rampbestuursentrums is steeds op 'n hoë gereedheidsgrondslag terwyl nog koue, nat en winderige toestande, sowel as sneeu op plekke verwag word, wat weer padsluitings en ontwrigtings tot gevolg kan hê. Die regering se adjunkwoordvoerder, William Baloyi sê 'n plan sal in werking gestel word sodra spanne geïdentifiseer het watter bystand gemeenskappe nodig het.

Die Oos-Kaapse departement van Vervoer sê meeste bergpasse in die provinsie wat weens sneeu gesluit was, is nou heropen. 'n Woordvoerder, Unathi Binqose sê paaie is egter steeds nat en glad en temperature bly baie laag, wat beteken dat toestande vinnig kan verander. Hy sê daar is ook swak sigbaarheid op die Penhoekpas op die N6 tussen Komani en James Calata, weens mis en motreën. Motoriste word gevra om baie versigtig te wees.

Die Parlement se komitee vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake sal vandag die Wysigingswetsontwerp op Munisipale Strukture, ook bekend as die Koalisiewetsontwerp, bespreek. Die wetstontwerp poog om 'n raamwerk te skep vir die samestelling en bestuur van koalisieregerings in munisipaliteite, insluitend dat dat daar 'n geskrewe koalisie-ooreenkoms moet wees wat vir vyf jaar van krag is. Die wetsontwerp beoog ook om die aanstelling te beperk van munisipale ampsdraers wat nie die nodige ervaring, vaardighede of kwalifikasies het nie. Cosatu se parlementêre koördineerder, Matthew Parks, sê kwalifikasies is belangrik vir ingewikkelde munisipale kwessies.

Die saak teen die vermeende misdaadbaas, Nafiz Modack word vandag in die Hooggeregshof in Kaapstad hervat. Modack en 14 medebeskuldigdes staan tereg op meer as 100 aanklagte, insluitend geldwassery, afpersing en rampokkery. Hulle word ook aangekla van die moord op die speurder, Charl Kinnear in 2020. Een van beskuldigdes sal vandag met sy getuienis voortgaan.

Die Turkse parlement het 'n regsraamwerk goedgekeur vir die ontbinding van die Koerdiese militantegroep, die PKK. Dit word beskou as 'n belangrike stap om 'n dekades lange konflik te beëindig, wat meer as 40-duisend lewens geëis het. Die wetgewing bied beskerming aan voormalige vegters wat nie spesifieke misdade gepleeg het nie, en kan lei tot die opskorting van vonnisse vir diegene wat tronkstraf uitdien omdat hulle lede van die PKK was. Dit is die Turkse regering se mees konkrete stap sedert die leier van die PKK, Abdulla Ocalan in Februarie verlede jaar 'n beroep op die groep gedoen het om te ontwapen en te ontbind. Die PKK het in Mei verlede jaar aangekondig dat hy sy gewapende stryd sal beëindig. Koerdiese politici waarsku egter dat blywende vrede verdere demokratiese en regshervormings sal vereis.

Deel nou