Skip to content

Nuusbulletins

Die vermeende misdaadbaas Vusimuzi "Cat" Matlala het aan die Madlanga-kommissie gesê dat hy nie kommentaar sal lewer oor die beweerde aflewering van Impalas aan die geskorste adjunk-nasionale polisiekommissaris vir misdaadopsporing, luitenant-generaal Shadrack Sibiya, nie. Matlala sê die opnames wat met die aangeleentheid verband hou, word ondersoek en dat hy homself nie wil inkrimineer nie. Volgens 'n opname wat verlede jaar voor die kommissie gespeel is, het Matlala na bewering 20 Impalas by Sibiya se plaas afgelewer. Matlala, wie se getuienis deur advokaat Mahlape Sello gelei word, sê hy was nie bewus van die opnames toe hy sy beëdigde verklaring afgelê het nie en het eers daarna na die klankopname geluister.

Die voorsitter van die ad hoc-komitee wat korrupsie en politieke inmenging in die polisie en regstelsel ondersoek, Soviet Lekganyane, sê die komitee kan moontlik inligting van die Madlanga-kommissie versoek. Die ad-hoc-komitee stel sy voorlopige verslag saam, maar volgens Lekganyane gaan hy hom nie beperk tot inligting wat die komitee self onthul het nie. Hy sê getuies kan gevra word vir reaskie op inligting opgediep deur die kommissie. Die ad hoc-komitee oorweeg dit ook om die kommissie te vra om dokumente met hom te deel.

Die Wes-Kaapse regering sê 215-duisend hektaar plantegroei is die afgelope brandseisoen deur veldbrande vernietig, terwyl ongeveer 53-duisend hektaar in die Cederberg-wildernisgebied afgebrand het. Die provinsiale minister van plaaslike regering, Anton Bredell, het egter beklemtoon dat die uitdaging om brande te bestry, verder strek as net veldbrande. Hy sê struktuurbrande het ook groot skade in verskeie gemeenskappe aangerig. Volgens Bredell skep sekere boumateriale en -tegnologieë soos battery-energiebergingstelsels nuwe risiko's vir brandbestryders.

President Cyril Ramaphosa het in sy hoedanigheid as voorsitter van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap, 'n beroep op sy eweknieë in die streek gedoen om besluite wat tydens vorige vergaderings geneem is, uit te voer. Hy het gepraat nadat hy vroeër vandag die voorsitterskap van die streeksliggaam by sy 46ste beraad in Durban oorgeneem het. Die vergadering van die S.A.O.G-staatshoofde en regeringsleiers word ook bygewoon deur diplomate van die liggaam se 16 lidlande. Ramaphosa sê die strewe na streeksintegrasie moet 'n werklikheid word.

'n Indonesiese vrou het dokters bedank nadat sy geboorte geskenk het tydens Saterdag se aardbewing met 'n seismiese lesing van sewe komma sewe. Dokters het 'n noodkeiser by flitslig uitgevoer op die 39-jarige vrou tydens skuddings en kragonderbrekings. Die vrou se babadogtertjie is twee maande vroeg gebore, en sonder die noodoperasie sou die ma en kind se lewens in gevaar gewees het. Die kind is gesond en sterk aan in 'n broeikas.

Deel nou