Die DA sê alle vrae oor bewerings teen sy LP, Mark Burke oor oortredings van die land se valutabeheerwetgewing moet na Burke se maatskappy, Kastelo verwys word. Die bewerings teen Burke is vervat in 'n beëdigde verklaring van die Reserwebank. Dit hou verband met die verskuiwing van valuta na ander lande en die moontlike omseiling van die land se valutabeheerwetgewing. 'n Bedrag van vier miljard rand word in die verklaring genoem. Burke dien in die Parlementêre Staande Kommissies oor Toewysings en Finansies en is die DA se finansiële woordvoerder. Kastelo is 'n finansiële tegnologie-maatskappy wat deur hom gestig is. Die ANC Koukus het gevra vir die onmiddellike verwydering van Burke uit alle Parlementêre finansies-verwante komitees. Burke en Kastelo het nie op navrae gereageer nie.
Die poging tot moord-verdagte en sakeman, Vusimuzi 'Cat' Matlala sal volgende Maandag en Dinsdag sy getuienis voor die Madlanga-kommissie voortsit. Die kommissie se voorsitter, afgetrede regter Mbuyiseli Madlanga het beslis dat Matlala Woensdag ook kan voortgaan as hy nie sy getuienis die vorige twee dae afhandel nie. Matlala se getuienis is van sleutelbelang vir die kommissie se ondersoek, veral met betrekking tot die Medicare24-polisietender. Hy het egter geweier om oor die saak te getuig en hom op sy swygreg beroep. Madlanga het gelas dat Matlala se antwoordende beëdigde verklaring teen Vrydag ingedien word.
Die Tshwane Metropolisie het bevestig dat een van sy konstabels in hegtenis geneem is in verband met bewerings van bedrog. Hy is Vrydag deur die Valke aangekeer en bly in aanhouding tot hy later vandeesweek in die hof verskyn. Die metropolisie se woordvoerder, Isaac Mahamba sê sy inhegtenisneming volg na beeldmateriaal van die konstabel op sosiale media gedeel is. Mahamba sê meer besonderhede kan nie bekendgemaak word nie omdat die ondersoek nog aan die gang is. Hy sê 'n interne dissiplinêre ondersoek is reeds gedoen en die TMPD skakel nie sy skorsing uit nie, hangende die uitslag van die ondersoek.
Twee Kongolese burgers wat in hegtenis geneem is nadat hulle na bewering probeer het om ongemagtigde toegang tot die 46ste SAOG-beraad in Durban te kry, het in die Durbanse landdroshof verskyn. Hulle word aangekla van onder meer bedrog en oortreding van die Polisiewet deur die onwettige betreding van 'n beperkte gebied. Die twee het aan die hof gesê dat hulle in Suid-Afrika was as deel van 'n afvaardiging van 'n Kongolese minister.
Die dodetal ná die veerbootramp op die Kariba-meer in Zimbabwe het tot twee-en-negentig gestyg. Die Zimbabwiese polisie sê sedert 11 Augustus is vier bote en meer as veertig lede van die polisie se duikeenheid, asook ander hulpbronne ontplooi vir die soek- en reddingspogings. Volgens die polisie het hulle ook bystand verleen aan staatsagentskappe en ander belanghebbendes met die uitkenning van die slagoffers.
'n Russiese opposisie-politikus is tot elf jaar tronkstraf gevonnis vir opmerkings teen die Oekraïense oorlog. Lev Shlosberg het die oorlog as 'n ramp vir Rusland bestempel. Hy is skuldig bevind daaraan dat hy die gewapende magte in oneer bring en waninligting versprei. Shlosberg is die adjunkvoorsitter van die liberale Jobloko-party. Die Russiese hooggeregshof het 'n week gelede beslis dat Joboko nie aan die parlementsverkiesing volgende maand mag deelneem nie. Dié hof het die party ook verlof tot appèl teen dié beslissing geweier.