Skip to content

Nuusbulletins

Die Care-beweging in Kaapstad het 'n veldtog van stapel gestuur teen planne om 'n veiligheidsmuur langs die N2 naby die Kaapstad Internasionale Lughawe te bou. Die Kaapstad Metro wil met die voorgestelde muur misdaad in die gebied bekamp deur 'n fisieke grens op te rig tussen die snelweg en 'n nabygeleë informele nedersetting. Die groep sê die 115 miljoen rand wat vir die bou van die muur geoormerk is moet liewer gebruik word vir behuising, die lewering van basiese dieste en die verbetering van gemeenskapsveiligheid. Die organisasie se koördineerder, Nkosikhona Swaartbooi sê hulle besef dat dit 'n hoë misdaad-risikogebied is vir motoriste wat die snelweg gebruik, maar dat die behoeftes van die inwoners van die informele nedersetting ook in ag geneem moet word.

Die DA sê alle vrae oor bewerings teen sy LP, Mark Burke oor oortredings van die land se valutabeheerwetgewing moet na Burke se maatskappy, Kastelo verwys word. Die bewerings teen Burke is vervat in 'n beëdigde verklaring van die Reserwebank. Dit hou verband met die verskuiwing van valuta na ander lande en die moontlike omseiling van die land se valutabeheerwetgewing. 'n Bedrag van vier miljard rand word in die verklaring genoem. Burke dien in die Parlementêre Staande Komitee oor Toewysings en Finansies en is die DA se finansiële woordvoerder. Kastelo is 'n finansiële tegnologie-maatskappy wat deur hom gestig is. Die ANC Koukus het gevra vir die onmiddellike verwydering van Burke uit alle Parlementêre finansies-verwante komitees. Burke en Kastelo het nie op navrae gereageer nie.

Uitspraak is uitgestel in die saak oor die Usindiso-brand in 2023 in die Johannesburgse middestad nadat die regter 'n aansoek van die verdediging toegestaan het om die saak te heropen. Ses-en-sewentig mense is dood in die brand in die gekaapte woonstelgebou in Marshalltown. Uitspraak is vandag verwag. Regter Cassim Moosa het die verdediging se aansoek toegestaan nadat kommer uitgespreek is oor bewyse wat die staat gedurende saak voorgelê het insluitend forensiese patologie-verslae en foto's van die slagoffers. Sthembiso Mdlalose staan tereg op 76 aanklagte van moord en brandstigting nadat hy na bewering die brand gestig het. Die staat sal na verwagting weer patologieverslae en foto's van die slagoffers voorlê en forensiese kenners roep. Die saak is tot Woensdag uitgestel.

Aktiviste teen ongedokumenteerde buitelanders het 'n beroep gedoen op Suider-Afrikaanse leiers om onwettige immigrasie in 'n ernstige lig te beskou. Die March and March-beweging het 'n optog van sowat 200 mense in Durban gelei waar streeksleiers vergader vir die 46ste leiersberaad van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap. Die organisasie het ook die deportasie geëis van alle ongedokumenteerde migrante teen 30 September as deel van sy veldtog om druk uit te oefen op die regering om op te tree teen onwettige immigrasie. March and March se leier, Jacinta Ngobese-Zuma het 'n beroep gedoen op buurlande om ekonomiese geleenthede vir hul burgers te skep om die instroming van migrante na Suid-Afrika stop te sit.

'n Vragskip is volgens berigte aan die Somaliese kus gekaap. In 'n boodskap sê die bemanning van die vaartuig dat agt gewapende mans aan boord gegaan en beheer oor die skip oorgeneem het. Die waters in die gebied is bekend vir skeepskapings waarna seerowers miljoene dollars as losprys eis. Die voorvalle het aansienlik afgeneem nadat veiligheidsmaatreëls getref is maar het weer toegeneem nadat patrollies in die gebied na die Rooisee verskuif het waar skepe deur Hoethi-rebelle aangeval word.

Deel nou