Skip to content

Nuusbulletins

Die ANC het die bekendmaking van sy burgmeesterkandidate uitgestel. Die party was van plan om vanoggend in Sandton te sê wie sy kandidate in die metro's en distriksrade is. Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula het 'n rukkie gelede aangekondig dat die kandidate eers aanstaande maand aangekondig sal word.

Die leier van Build One South Africa, Mmusi Maimane sê intussen hy gaan 'n vrou as sy party se burgemeesterskandidaat in Tshwane aankondig. Hy sê die kandidaat is 'n Pretorianer wat bevoeg is om die stad te lei en bekend is met metro se uitdagings.

Die Wes-Kaapse kommissaris van polisie, luitenant-generaal Sizakhele Dyantyi besoek Knysna vandag nadat drie ANC-lede in twee dae in die dorp vermoor is. Die voormalige burgemeester van Knysna, Aubrey Tsengwa, 'n voormalige wyskraadslid en nog 'n ANC lid, wat ook 'n taxibaas is, is vermoor. Sommige raadslede van Knysna het na veilige huise getrek te midde van meer polisiebeamptes wat in die dorp ontplooi is.

Die Departement van Landbou het twee nuwe gevalle van bek-en klouseer in die Heilbron en Bloemfontein gebiede bevestig. Dit bring die totale aantal bevestigde gevalle in die Vrystaat op 772 te staan, waarvan bykans 600 suksesvol opgelos en kwarantynmaatreëls op plase opgehef is.

Die VSA en Kanada kon nie 'n handelsooreenkoms oor die 50 persent invoertariewe op sekere Kanadese goedere bereik nie. Die tariefverhoging van sowat 20 miljard dollar, sal nou om middernag in werking tree. Kort voor die verstryking van die spertyd wat president Donald Trump gestel het, het albei kante aangekondig dat geen ooreenkoms bereik is nie.

Deel nou