Skip to content

Nuusbulletins

Die veroordeelde moordenaar Rassie Nkuna en die voormalige polisiebeampte, Jacob Chega, is tot vier keer lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op die egpaar, Lucky Mogashoa en sy swanger vrou, Sabeliwe. Hulle is in die hooggeregshof in Pretoria gevonnis in verband met die moord op die egpaar in Maart 2022 op die N12 naby die Etwatwa-afrit in Ekurhuleni. Hulle is ook tot vyf jaar tronkstraf elk gevonnis vir ontvoering, en 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede. Nkuna dien reeds twee lewenslange vonnisse uit vir die moord op sy destydse vriendin, Pretty Mazibuko, en haar suster Marcia, in Mpumalanga. Hy sal na verwagting aanstaande jaar verhoor word vir die moord op Hillary Gardee.

Die Madlanga-kommissie is 'n foto gewys van vyf vermeende lede van die sogenaamde "Groot Vyf" kartel. Die mans in die foto is geïdentifiseer as Katiso "KT" Molefe, Steve Motsumi, Ignatius Mothakathi, Andrew Mthethwa, wat ook as "King Nyambose" bekendstaan, en Jotham "Mswazi" Msibi. Die voormalige nasionale hoof van die Valke, Godfrey Lebeya, getuig oor 'n telefoongesprek wat hy met die vermeende polisie-informant, Malcolm X gehad het, tydens 'n klopjag op Molefe se huis in Desember 2024. Lebeya het beamptes na die toneel gestuur, nadat Malcolm X beweer het dat mans met klapmusse voorgee dat hulle Valke-beamptes is. Die kommissie het gehoor dat Malcolm X later dieselfde aand in 'n boodskap aan Lebeya gesê het dat "King Nyambose" dankbaar is vir sy pogings, en dat dit jammer is dat die beamptes wat hy na die eiendom gestuur het, nie op die perseel toegelaat is nie. Lebeya het in antwoord op 'n vraag van die getuienisleier, Lee Seegers-Ncube gesê dat hy nie vir Mthethwa of enige van die ander vermeende kartellede ken nie.

Die Nasionale Taxi-allianse sê die jongste styging in brandstofpryse is 'n groot terugslag vir die taxibedryf. Dieselpryse het om middernag met tussen twee rand-93 en drie rand-14 sent per liter gestyg, en petrol met een rand-34 sent. 'n Woordvoerder van die NTA, Theo Malele sê leiers in die bedryf sal nou moet vergader om te besluit oor 'n verhoging in tariewe. Hy sê die hoër brandstofpryse lei tot groot verliese vir taxi-operateurs, maar indien tariewe te skerp opgestoot word, is daar 'n gevaar dat taxi's nog passasiers kan verloor. Die NTA het 'n beroep op die regering gedoen om meer te doen om die taxibedryf by te staan.

Die departement van Internasionale Betrekkinge sê hy het geen bewyse gevind dat Suid-Afrika se Hoë Kommissariaat in Indië, vergaderings gefasiliteer het tussen oudpresident Jacob Zuma en die sakeman Ajay Gupta nie. Dit volg na die department oorleg gepleeg het, oor Zuma se private besoek aan Indië in Junie. Die department sê die Hoë Kommissariaat het Zuma bygestaan met die protokol en logistieke steun wat gewoonlik aan voormalige presidente verleen word. Volgens die departement, het die Hoë Kommissaris, Anil Sooklal, 'n afsonderlike uitnodiging gekry na 'n godsdienstige geleentheid in Haridwar en het hy nie vir Zuma of Gupta vergesel nie. Die Hoë Kommissaris het ook geen regstreekse interaksie met Gupta aangemeld nie.

Die sterftesyfer weens die jongste uitbreking van ebola in die Demokratiese Republiek die Kongo, het die drieduisend kerf verbygesteek. Die uitbreking, wat deur die Bundibugyo-stam van die virus veroorsaak word, is reeds die grootste en dodelikste in die geskiedenis van die DRK. Volgens die Kongolese regering is sesduisend-186 gevalle nou bevestig, insluitend drieduisend-en-sewe sterftes. Die uitbreking is amptelik op 15 Mei in die Ituri-provinsie verklaar, en het intussen na nog vyf provinsies versprei.

Deel nou