Skip to content

Nuusbulletins

Bykans 150-duisend kandidate is benoem wat sal meeding om die meer as 10-duisend setels in munisipale rade tydens die komende plaaslike regeringsverkiesing. Die Verkiesingskommissie het dit vandag in Centurion bekendgemaak by 'n mediakonferensie oor die uitkomste van die benoemingsproses vir kandidate. Die sperdatum vir kandidatelyste was die afgelope Vrydag. Die OVK moet onder meer verifieer of politieke partye en onafhanklike kandidate die toepaslike deposito's betaal het en of hulle besonderhede ingedien het van geregistreerde kiesers wat hul kandidatuur steun. Die finale kandidatelyste sal dan op die 16de van die maand bekendgemaak word.

Die Madlanga-kommissie is 'n foto gewys van vyf vermeende lede van die sogenaamde "Groot Vyf" kartel. Die mans in die foto is geïdentifiseer as Katiso "KT" Molefe, Steve Motsumi, Ignatius Mothakathi, Andrew Mthethwa, wat ook as "King Nyambose" bekendstaan, en Jotham "Mswazi" Msibi. Die voormalige nasionale hoof van die Valke, Godfrey Lebeya, getuig oor 'n telefoongesprek wat hy met die vermeende polisie-informant, Malcolm X gehad het, tydens 'n klopjag op Molefe se huis in Desember 2024. Lebeya het beamptes na die toneel gestuur, nadat Malcolm X beweer het dat mans met klapmusse voorgee dat hulle Valke-beamptes is. Die kommissie het gehoor dat Malcolm X later dieselfde aand in 'n boodskap aan Lebeya gesê het dat "King Nyambose" dankbaar is vir sy pogings, en dat dit jammer is dat die beamptes wat hy na die eiendom gestuur het, nie op die perseel toegelaat is nie. Lebeya het in antwoord op 'n vraag van die getuienisleier, Lee Seegers-Ncube gesê dat hy nie vir Mthethwa of enige van die ander vermeende kartellede ken nie.

Die ondersoekbeampte wat die moord op die bokskampioen, Zolani Tete ondersoek, sê al vier mans wat van die moord beskuldig word, het erken dat hulle by die misdaad betrokke was. Nkululeko Mtati het in die Mdantsane-landdroshof in die Oos-Kaap getuig tydens die borgtogaansoek van twee van die vier verdagtes. Hy sê die staat het 'n sterk saak teen al vier beskuldigdes. Mtati het ook getuig dat die twee verdagtes wat om borgtog aansoek doen, moontlik met getuies kan inmeng. Hy het ook aangedui dat een van die beskuldigdes drie ander sake teen hom het, insluitend 'n saak van voertuigdiefstal.

Die departement van Internasionale Betrekkinge sê hy het geen bewyse gevind dat Suid-Afrika se Hoë Kommissariaat in Indië, vergaderings gefasiliteer het tussen oudpresident Jacob Zuma en die sakeman Ajay Gupta nie. Dit volg na die department oorleg gepleeg het, oor Zuma se private besoek aan Indië in Junie. Die department sê die Hoë Kommissariaat het Zuma bygestaan met die protokol en logistieke steun wat gewoonlik aan voormalige presidente verleen word. Volgens die departement, het die Hoë Kommissaris, Anil Sooklal, 'n afsonderlike uitnodiging gekry na 'n godsdienstige geleentheid in Haridwar en het hy nie vir Zuma of Gupta vergesel nie. Die Hoë Kommissaris het ook geen regstreekse interaksie met Gupta aangemeld nie.

Minstens 21 mense is dood in 'n busongeluk in die ooste van Egipte. Die botsing het plaasgevind op die pad tussen Dahab en Nuweiba in die suide van die Sinai-skiereiland. Die gebied langs die Rooisee is 'n gewilde toeristebestemming en lok besoekers van regoor die wêreld. Die bus het onder meer 'n aantal burgers van Jordanië vervoer.

Deel nou