Skip to content

Nuusbulletins

Die Tuinroete-rampbestuursentrum het inwoners versoek om waaksaam te wees, nadat 'n geelvlak 4-weerwaarskuwing vir die streek uitgereik is. Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens sal 'n kouefront die Wes-Kaap môre tref, en gure weerstoestande sal tot Vrydag voortduur. sal Die hoof van rampbestuur, Gerhard Otto, sê sterk wind en ontwrigtende reën wat tot oorstromings kan lei, word voorspel.

Die Langkloof Boerevereniging sê dringende ingryping is nodig om water- en sanitasie-uitdagings in die Kou-Kamma Munisipaliteit in die Oos-Kaap die hoof te bied. Die vereniging het met die adjunkminister van Water en Sanitasie, Jack Bloom, en plaaslike owerhede vergader om oplossings te bespreek vir langer as 'n dekade se onbetroubare watervoorsiening, disfunksionele rioolinfrastruktuur en die skade wat deur onlangse oorstromings veroorsaak is. Die woordvoerder van die vereniging, Marius van der Westhuizen, sê die krisis het 'n ernstige invloed op die plaaslike landbousektor, wat tans net minder as 20 persent van die land se sitrus produseer.

Bykans 150-duisend kandidate is benoem wat sal meeding om die meer as 10-duisend setels in munisipale rade tydens die komende plaaslike regeringsverkiesing. Die Verkiesingskommissie het dit vandag in Centurion bekendgemaak by 'n mediakonferensie oor die uitkomste van die benoemingsproses vir kandidate. Die sperdatum vir kandidatelyste was die afgelope Vrydag. Die OVK moet onder meer verifieer of politieke partye en onafhanklike kandidate die toepaslike deposito's betaal het en of hulle besonderhede ingedien het van geregistreerde kiesers wat hul kandidatuur steun. Die finale kandidatelyste sal dan op die 16de van die maand bekendgemaak word.

Nege uit tien Suid-Afrikaanse ouers verkies strenger beheer oor die gebruik selfone by skole. Dit is die bevinding van die 2026 Karri Parent-meningspeiling. Die meningspeiling is gedoen onder bykans twee-duisend-800 ouers in al nege provinsies. Meer as die helfte van die respondente het aangedui hulle is ten gunste daarvan dat kinders selfone na skole neem, maar wil hê die fone moet toegesluit word tydens skoolure.

Die Oekraïense president, Wolodimir Zelenski het lugdienste gewaarsku dat die Russiese lugruim effektief gesluit word weens sy land se verskerpte hommeltuigaanvalle. Meeste Westerse kommersiële lugdienste vlieg reeds nie oor Rusland nie, maar sommige lugrederye van lande soos China, doen dit steeds. Die Russiese president, Wladimir Poetin het in reaksie gesê die opmerkings kom neer op 'n verklaring van staatsterrorisme, en dat Rusland ook sal voortgaan om sy aanvalle op Oekraïne te verskerp. Zelenski het beklemtoon dat Oekraïne nie burgerlugvaart bedreig nie, maar dat lugrederye en versekeraars in ag moet neem dat daar baie hommeltuie in Rusland se lugruim gaan wees. Oekraïne het die afgelope maande verskeie teikens diep in Rusland aangeval, insluitend energie-infrastruktuur en die pakhuise van groot kleinhandelaars.

Deel nou