Skip to content

Nuusbulletins

Die Verkiesingskommissie het benadruk dat hy nie die kandidaat-registrasiestelsel sal heropen vir enige party of onafhanklike kandidaat wat die spertyd misgeloop het nie. Die Hoofkiesbeampte, Sy Mamabola het by 'n mediasessie in Centurion gesê die OVK het nooit op enige wyse te kenne gegee dat hy dit sal oorweeg om die stelsel te heropen na die afsnypunt nie, en dit word ook nie nou oorweeg nie. Hy sê daar was ook gistermiddag 'n vergadering met alle partye en dié boodskap is duidelik oorgedra. Mamabola sê daar was voldoende tyd voor die spertyd vir alle kandidate om te registreer. Die registrasie van kandidate het Vrydagmiddag om vyfuur gesluit. Maandag het die ANC in 'n verklaring gesê verskeie van sy kandidate is voor die spertyd geregistreer, maar die party beweer dat hy tegniese probleme met die stelsel ondervind het wat van die kandidate geraak het.

Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit in Limpopo sê hy het 15 miljoen rand se skuld van inwoners en sakeondernemings afgeskryf. Volgens die munisipaliteit is inwoners en ondernemings in die 2024-25-boekjaar verkeerdelik gefaktureer. Die munisipale woordvoerder, Michael Makungo, sê die raad het die besluit goedgekeur. Makunga sê die raad het die afskrywing van aanpassings met betrekking tot vullisverwydering en riooldienste goedgekeur. Hy het alle rolspelers bedank vir hul geduld met en begrip vir die situasie.

Die Tuinroete-rampbestuursentrum het inwoners versoek om waaksaam te wees, nadat 'n geelvlak 4-weerwaarskuwing vir die streek uitgereik is. Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens sal 'n kouefront die Wes-Kaap môre tref, en gure weerstoestande sal tot Vrydag voortduur. sal Die hoof van rampbestuur, Gerhard Otto, sê sterk wind en ontwrigtende reën wat tot oorstromings kan lei, word voorspel.

Die Langkloof Boerevereniging sê dringende ingryping is nodig om water- en sanitasie-uitdagings in die Kou-Kamma Munisipaliteit in die Oos-Kaap die hoof te bied. Die vereniging het met die adjunkminister van Water en Sanitasie, Jack Bloom, en plaaslike owerhede vergader om oplossings te bespreek vir langer as 'n dekade se onbetroubare watervoorsiening, disfunksionele rioolinfrastruktuur en die skade wat deur onlangse oorstromings veroorsaak is. Die woordvoerder van die vereniging, Marius van der Westhuizen, sê die krisis het 'n ernstige invloed op die plaaslike landbousektor, wat tans net minder as 20 persent van die land se sitrus produseer.

Nege uit tien Suid-Afrikaanse ouers verkies strenger beheer oor die gebruik selfone by skole. Dit is die bevinding van die 2026 Karri Parent-meningspeiling. Die meningspeiling is gedoen onder bykans twee-duisend-800 ouers in al nege provinsies. Meer as die helfte van die respondente het aangedui hulle is ten gunste daarvan dat kinders selfone na skole neem, maar wil hê die fone moet toegesluit word tydens skoolure.

Deel nou