Skip to content

Nuusbulletins

Die bestuurshoof van die Wêreldinisiatief teen Transnasionale Georganiseerde Misdaad in Geneve, Mark Shaw, sê georganiseerde misdaad is nie bloot 'n uitdaging vir die polisie nie. Hy sê dit bedreig Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie vanweë die feit dat dit staatsinstellings infiltreer. Shaw getuig by die Madlanga-kommissie waar hy fokus op hoe ander lande georganiseerde misdaad hanteer wat staatsinstellings en strafregstelsels infiltreer. Hy het aan die kommissie gesê Suid-Afrika tel onder die lande wat die ergste geraak word deur georganiseerde misdaad en geweld. Shaw sê afgesien van Latyns-Amerikaanse lande het Suid-Afrika van die hoogste vlakke van georganiseerde misdaad.

Die Verkiesingskommissie het benadruk dat hy nie die kandidaat-registrasiestelsel sal heropen vir enige party of onafhanklike kandidaat wat die spertyd misgeloop het nie. Die Hoofkiesbeampte, Sy Mamabola het by 'n mediasessie in Centurion gesê die OVK het nooit op enige wyse te kenne gegee dat hy dit sal oorweeg om die stelsel te heropen na die afsnypunt nie, en dit word ook nie nou oorweeg nie. Hy sê daar was ook gistermiddag 'n vergadering met alle partye en dié boodskap is duidelik oorgedra. Mamabola sê daar was voldoende tyd voor die spertyd vir alle kandidate om te registreer. Die registrasie van kandidate het Vrydagmiddag om vyfuur gesluit. Maandag het die ANC in 'n verklaring gesê verskeie van sy kandidate is voor die spertyd geregistreer, maar die party beweer dat hy tegniese probleme met die stelsel ondervind het wat van die kandidate geraak het.

Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit in Limpopo sê hy het 15 miljoen rand se skuld van inwoners en sakeondernemings afgeskryf. Volgens die munisipaliteit is inwoners en ondernemings in die 2024-25-boekjaar verkeerdelik gefaktureer. Die munisipale woordvoerder, Michael Makungo, sê die raad het die besluit goedgekeur. Makunga sê die raad het die afskrywing van aanpassings met betrekking tot vullisverwydering en riooldienste goedgekeur. Hy het alle rolspelers bedank vir hul geduld met en begrip vir die situasie.

Sterrekundiges van die Universiteite van Wes-Kaapland en Manchester het die Meerkat-teleskoop gebruik om fyn radio-uitstralings van neutrale waterstofgas oor verskeie kosmiese afstande te meet. Dié seine bied 'n belangrike voorbeeld van 'n tegniek wat as waterstof-intensieteitafbeelding bekend staan. Die navorsers sê dié bevindings is 'n beduidende stap in die gebruik van neutrale waterstof om 'n drie-dimensionele struktuur van die heelal te karteer. Hulle sê die projek baan die weg vir nuwe maniere om die heelal te bestudeer, en te bepaal hoe sterrestelsels en kosmiese strukture ontwikkel het. Die navorsers sê die ontdekking dui ook op die veelsydigheid van die Meerkat-teleskoop.

Die gholfspeler Tiger Woods het ingestem dat sy rybewys vir twee opeenvolgende vyfjaarperiodes opgeskort word en om 'n boete van 1000 dollar te betaal in ruil daarvoor dat 'n aanklag van dronkbestuur teen hom laat vaar word. Hy is daarna van roekelose bestuur aangekla. Woods is op 27 Maart in hegtenis geneem in verband met dronkbestuur en bestuur onder die invloed nadat hy roekeloos by 'n vragmotor verbygesteek het. Sy voertuig het omgeslaan en gerol. Die regter het beslis dat die twee vyfjaartydperke gelyklopend uitgedien sal word, maar het Woods gewaarsku om onder geen omstandighede in die vyf jaar te bestuur nie. Woods is in 2017 ook aangekla van dronkbestuur, maar die aanklag is verander na roekelose bestuur.

Deel nou