Skip to content

Nuusbulletins

Die Burgerlugvaartowerheid stel ondersoek in na die verbyvlug wat voor verlede naweek se kragmeting tussen die Springbokke en die All Blacks in Kaapstad uitgevoer is. Die B.L.O. sê hy het ook begin met 'n verifikasieproses nadat hy samesprekings gevoer het met die lugdiens Airlink, en opnames van vlugdata en ander vereiste inligting bekom het. Die Owerheid sê Airlink het drie aansoeke vir rugbyverwante verbyvlugte ingedien, waarvoor die afgelope naweek se vlug die tweede een was. Volgens die owerheid is die vereiste prosedures, insluitend 'n vlugnabootser en 'n veiligheidsinligtingsessie afgehandel voordat die vlug goedgekeur is. Die B.L.O sê hy doen verdere ontleding en het bykomende inligting van Airlink aangevra. 'n Volledige verslag en aanbevelings sal daarna aan die lugdiens verskaf word.

Die bestuurshoof van die Wêreldinisiatief teen Transnasionale Georganiseerde Misdaad in Genève, Mark Shaw, sê georganiseerde misdaad is nie bloot 'n uitdaging vir die polisie nie. Hy sê dit bedreig Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie vanweë die feit dat dit staatsinstellings infiltreer. Shaw getuig by die Madlanga-kommissie waar hy fokus op hoe ander lande georganiseerde misdaad hanteer wat staatsinstellings en strafregstelsels infiltreer. Hy het aan die kommissie gesê Suid-Afrika tel onder die lande wat die ergste geraak word deur georganiseerde misdaad en geweld. Shaw sê afgesien van Latyns-Amerikaanse lande het Suid-Afrika van die hoogste vlakke van georganiseerde misdaad.

Die uitspraak in die borgtogaansoek van sewe verdagtes van die Emfuleni munisipaliteit is voorbehou tot Maandag. Die saak is uitgestel sodat adresse en ID-dokumente van die beskuldigdes nagegaan kan word. Die sewe word aangekla van onder meer bedrog en korrupsie. Drie is werknemers en vier is kontrakteurs van die munisipaliteit. Die Emfuleni munisipaliteit sê hy het meer as nege miljoen rand verloor weens die elektrisiteitsbedrogskema.

Sterrekundiges van die Universiteite van Wes-Kaapland en Manchester het die Meerkat-teleskoop gebruik om fyn radio-uitstralings van neutrale waterstofgas oor verskeie kosmiese afstande te meet. Dié seine bied 'n belangrike voorbeeld van 'n tegniek wat as waterstof-intensieteitafbeelding bekend staan. Die navorsers sê dié bevindings is 'n beduidende stap in die gebruik van neutrale waterstof om 'n drie-dimensionele struktuur van die heelal te karteer. Hulle sê die projek baan die weg vir nuwe maniere om die heelal te bestudeer, en te bepaal hoe sterrestelsels en kosmiese strukture ontwikkel het. Die navorsers sê die ontdekking dui ook op die veelsydigheid van die Meerkat-teleskoop.

Die gholfspeler Tiger Woods het ingestem dat sy rybewys vir twee opeenvolgende vyfjaarperiodes opgeskort word en om 'n boete van 1000 dollar te betaal in ruil daarvoor dat 'n aanklag van dronkbestuur teen hom laat vaar word. Hy is daarna van roekelose bestuur aangekla. Woods is op 27 Maart in hegtenis geneem in verband met dronkbestuur en bestuur onder die invloed nadat hy roekeloos by 'n vragmotor verbygesteek het. Sy voertuig het omgeslaan en gerol. Die regter het beslis dat die twee vyfjaartydperke gelyklopend uitgedien sal word, maar het Woods gewaarsku om onder geen omstandighede in die vyf jaar te bestuur nie. Woods is in 2017 ook aangekla van dronkbestuur, maar die aanklag is verander na roekelose bestuur.

Deel nou