Skip to content

Nuusbulletins

Vyf verdagtes is in die vroeë oggendure op verskeie plekke in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem in verband met die moord in April op twee beamptes van die misdaadintelligensie-eenheid. 'n Sesde verdagte is dood tydens 'n skietery met die polisie in Inanda. Die provinsiale polisiewoordvoerder, Robert Netshiunda sê kort nadat kaptein Louis Nel en sersant Mandla Khuzwayo by Mount Edgecome in 'n lokval gelei en doodgeskiet is, is 'n taakspan aangestel om die verdagtes vas te trek. Hy sê die verdagtes is vanoggend in Pinetown, Amamzimtoti, Mandeni en Newlands-Wes in hegtenis geneem.

Die voorsitter van die Eskom-raad, Mteto Nyati, se dienstydperk is met drie jaar verleng. Sy termyn sou aan die einde van Oktober verstryk. Nyati is die afgelope drie jaar raadsvoorsitter van die kragvoorsiener. Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientso Ramokgopa, het die aankondiging by 'n mediakonferensie gedoen nadat die kabinet die verlenging van Nyati se termyn goedgekeur het.

Die Kaapstadse busmaatskappy Golden Arrow het sy tariefverhogings wat Maandag in werking tree beperk, ten einde pendelaars tegemoet te kom. Die maatskappy het aanvanklik in Augustus aansoek gedoen om sy tariewe te verhoog. Die verhogings sou aan die begin van vandeesmaand in werking tree. Die Wes-Kaapse minister van Mobiliteit, Isaac Sileku sê hy verwelkom die busmaatskappy se besluit om verhogings te beperk, en die meeste piektydtariewe onveranderd te hou.

Die Europese Unie sê hy sal die G20-beraad wat in Desember in Miami in die VSA plaasvind, gebruik om weer Rusland se inval in Oekraïne te veroordeel. 'n Woordvoerder van die EU het gereageer op berigte dat die Russiese president, Wladimir Poetin dit oorweeg om om die VSA se uitnodiging te aanvaar om die beraad by te woon. Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio sê dit is nodig om van aangesig tot aangesig te probeer om probleme op te los. Die EU sê hy sal nie ophou om Rusland se optrede te veroordeel nie. Die Poolse eerste minister, Donald Tusk sê intussen hy is bekommerd dat 'n uitnodiging aan Poetin gesien kan word as aanmoediging vir Rusland om sy aggressie voort te sit.

Deel nou