Die Wes-Kaapse polisie ondersoek 'n moord en twee sake van poging tot moord ná 'n skietery in Belhar op die Kaapse Vlakte waarin een mens dood en twee gewond is. Die polisiewoordvoerder, FC van Wyk sê die twee gewondes is in 'n nabygeleë hospitaal opgeneem. Hy sê die motief vir die aanval is nog nie bekend nie en niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Die Madlanga-kommissie se getuienisleiers het aansoek gedoen dat dele van die getuienis van die voormalige adjunkhoof van Misdaadintelligensie, Feroz Khan, agter geslote deure aangehoor word. Die aansoek hou verband met sekere WhatsApp-kommunikasie waarby Khan betrokke was, asook verwante dokumente. Khan se regsverteenwoordigers sal toegelaat word om die verrigtinge agter geslote deure by te woon en die inhoud daarvan aan hom bekend te maak ten einde sy opdragte te verkry.
Die media het 72 uur om die aansoek teen te staan, terwyl die Kommissie vertroulikheid ten opsigte van die verrigtinge, opnames en dokumente versoek het.
Drie vragmotors het vanoggend tydens 'n botsing aan die brand geslaan op die N4-tolpad tussen Hectorspruit en Marlothpark in Mpumalanga. Al drie die bestuurders is ongedeerd. Die pad in die oostelike rigting na Komatipoort is gesluit, en 'n stop-en-rybeheer word toegepas. Motoriste is gewaarsku om vertragings te verwag. Daar is toenemende kommer oor ernstige verkeersopeenhopings op dié roete, wat veroorsaak word deur groot volumes swaar vragverkeer op pad na die Maputo-hawe.
Meer as 100 politieke partye in die Wes-Kaap het die Verkiesingskommissie se Gedragskode in Belville onderteken. Die provinsiale kiesbeampte, Michael Hendrickse, sê alle politieke partye en onafhanklike kandidate is verplig om die kode te onderteken. Hy sê hulle is gereed vir die verkiesing. Hendrickse sê 106 partye en 33 onafhanklike kandidate sal die verkiesing betwis. Hy sê 14-duisend-348 kandidate staan in 868 wyke.