Die Nasionale Voorsitter van die ANC, Gwede Mantashe, voer aan dat individue partylede gebruik om onbestendigheid in die party se Oos-Kaapse tak te saai. Sy opmerkings verwys na onlangse hofsake van partylede teen die ANC. Die Makhanda-hooggeregshof in die Oos-Kaap het vroeër dié week 'n poging deur lede van die hand gewys om die ANC-kandidatelys vir die plaaslike verkiesing ongeldig te verklaar. Vroeër vanjaar het lede daarin geslaag om 'n interdik te verkry teen die ANC se Oos-Kaapse kiesberaad. Volgens Mantashe word dié voorvalle van buite beplan en befonds met kwaadwillige bedoelings.
Meer as 100 politieke partye in die Wes-Kaap het die Verkiesingskommissie se Gedragskode in Belville onderteken. Die provinsiale kiesbeampte, Michael Hendrickse, sê alle politieke partye en onafhanklike kandidate is verplig om die kode te onderteken. Hy sê hulle is gereed vir die verkiesing. Hendrickse sê 106 partye en 33 onafhanklike kandidate sal die verkiesing betwis. Hy sê 14-duisend-348 kandidate staan in 868 wyke.
Die Wes-Kaapse polisie ondersoek 'n moord en twee sake van poging tot moord ná 'n skietery in Belhar op die Kaapse Vlakte waarin een mens dood en twee gewond is. Die polisiewoordvoerder, FC van Wyk sê die twee gewondes is in 'n nabygeleë hospitaal opgeneem. Hy sê die motief vir die aanval is nog nie bekend nie en niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Transnet sê hy het met 'n proses begin om 'n privaatsektorvennoot aan te stel om 'n nuwe uitvoerhawe vir mangaan te ontwikkel en te bedryf. Die oogmerk is om die uitvoer van mangaan met 20 persent te verhoog. Volgens die Mineraleraad het Suid-Afrika verlede jaar sowat 26 miljoen ton mangaan uitgevoer. Mangaan word grootliks gebruik in die vervaardiging van staal, maar word ook toenemend gebruik in batterytegnologie in die hernubare energiesektor. Die vennoot van Transnet sal help om 'n nuwe uitvoerkorridor vanaf myne in die Noord-Kaap na die nuwe uitvoerhawe in Ngqura in die Oos-Kaap te bou, te bedryf en te onderhou.
Die Amerikaanse president, Donald Trump, het tydens 'n staatsbanket vir die Chinese president, Xi Jinping, kommer oor die kunsmatige-intelligensie-wedywering tussen die twee lande afgemaak. Volgens Trump het die VSA en China verskillende KI-stelsels, maar dat die verhouding tussen hulle die beste nóg is. Xi het die gehoor verseker dat die twee leiers in die veld bekwaam en verantwoordelik is. Die Chinese president sê daar sal altyd verseker word dat KI aangewend word vir die beswil van die mensdom, en altyd onder menslike beheer sal wees.
Vier streke of provinsies wat by Krieket Suid-Afrika geaffilieer is, het nie hul bestuursverpligtinge nagekom nie. Boland Krieket en Noordwes Krieket het by Grens en Noord-Kaap aangesluit – wat steeds nie as gerespekteerde lede erken word nie. Hulle is formeel in kennis gestel dat hulle hul onderskeie algemene jaarvergaderings moes afhandel en hul geouditeerde finansiële jaarstate voor die vasgestelde sperdatum moes indien. Hulle is gevolglik uitgesluit van deelname aan die 2026 algemene jaarvergadering. Krieket Suid-Afrika sê hulle hoop die besluit sal lede aanspoor om aan vereistes vir behoorlike bestuur te voldoen.