Die waarnemende minister van polisie, Firoz Cachalia, sê daar is geen bewys dat generaal-majoor Wally Rhoode gekeer het dat 'n saak ingedien word nadat 580-duisend Amerikaanse dollar op president Cyril Ramaphosa se plaas gesteel is in 2020 nie. Rhoode is die hoof van die presidents-beskermings-eenheid. Cachalia is in 'n skriftelike parlementêre vraag gevra of hy Rhoode gevra het om 'n verslag te skryf nadat die Onafhanklike Polisie-ondersoek-direktoraat bevind het dat hy nie die Phala Phala-inbraak en diefstal by die nasionale polisiekommissaris aangemeld het nie. Cachalia het gesê daar is geen bewyse daarvoor gevind nie en dat dit die plig was van die plaasbestuurder, Hendrick von Wielligh, om die misdaad aan te meld, nie Rhoode nie.
Die Limpopo-vervoerdepartement maan motoriste om versigtig te wees op besige paaie dié naweek. Duisende kerkgangers stroom na die Zionistekerk by Moria buite Polokwane. Talle Suid-Afrikaners het ook die geleentheid van Erfenisdag gister gebruik om weg te breek. Swaar verkeer is sedert vanoggend aangemeld op die N1 tussen Mokopane en Polokwane. Bestuurders word gevra om die spoedgrens te eerbiedig, 'n veilige volgafstand te handhaaf en ander voertuie slegs in toegelate gebiede verby te steek.
Die ANC-president, Cyril Ramaphosa sê stygende misdadigheid in die land is 'n bron van kommer. Ramaphosa het stemme gewerf in Hammarsdale, wes van Durban. Hy het verwys na die massa-skietery Dinsdag in KwaMakhutha ook in KwaZulu-Natal, waarin drie gewapende aanvallers elf mense by 'n partytjie doodgeskiet het. Volgens die ANC-president moet gemeenskappe betrokke raak by die stryd teen misdaad deur gemeenskapspolisiëringsforums.
Suid-Afrikaanse mediese navorsers ontwikkel 'n nuwe benadering om tuberkulose te bespeur. Dié nuwe metode behels kunsmatige intelligensie en 'n eenvoudige bloedtoets. Die AddiCAD-projek, gelei deur Universiteit Stellenbosch, ondersoek of 'n kombinasie van dié twee metodes TB-diagnose kan verbeter en die afhanklikheid van speekselmonsters kan verminder.
Die Oekraïense president, Wolodmir Zelenski, sê befondsing van miljarde dollars is dringend nodig vir krygsvoorraad. Zelenski sê hommeltuie en missiele van 440 miljard rand moet gekoop word in Oktober en November, anders gaan hulle teen die begin van volgende jaar opraak. Die Oekraïense president vra die Europese Unie om die tweede deel van 'n lening van negentig miljard Euro beskikbaar te stel, sodat die land wapentuig en voorraad kan koop vir die oorlog wat reeds meer as vier-en-'n-halfjaar duur.
Vier van Europa se invloedrykste sokkerligas eis omvattende hervormings by die wêreld se sokkerbeheerliggaam Fifa. Engeland se Premierliga, Duitsland se Bundesliga, LaLiga van Spanje, en Serie A van Italië sê Fifa benodig strenger wigte en teëwigte; duidelike grondwetlike grense en 'n groter skeiding tussen sy regulatoriese en kommersiële funksies. Die Europese sokkerligas sê rolspelers behoort 'n groter seggenskap in besluitneming te hê. Die gesamentlike optrede deur die Europese ligas is deel van toenemende vrae oor Fifa se bestuur, en die eerste gekoördineerde reaksie op die Fifa-president, Gianni Infantino se planne vroeër vanjaar om meer eksterne betrokkenheid in die kommersiële bedrywighede te betrek. Hy het die plan laat vaar ná skerp reaksie uit sokkergeledere.