Die afgedankte adjunkhoof van Misdaadintelligensie, Feroz Khan, het tot 12uur vanmiddag kans om sy verklaring oor sy in-camera getuienis by die Madlanga-kommissie in te dien. Die Kommissie het gister beslis dat sy getuienis eerskomende Dinsdag in-camera sal geskied. Khan se regspan het om uitstel gevra om tyd te hê om voor te berei, asook uit kommer oor die uitwerking wat dit op Khan se gesondheid het. Khan het onlangs nie vir sy geskeduleerde getuienis opgedaag nie waarna die kommissie opdrag gegee het dat strafregtelike klagte teen hom ingedien word.
Die parlementêre portefeuljekomitee oor internasionale betrekkinge en samewerking sê hy sal binnekort die departement vra waarom die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Brent Bozell, vir 'n derde keer in nege maande formeel aangespreek is. Die voorsitter van die portefeuljekomitee, Mosa Chabane, sê dat Bozell weer op 30 September voor stok gekry is. Die departement het hom glo ontbied om sy ondiplomatieke gedrag te verduidelik. Chabane sê dit is noodsaaklik dat die soewereiniteit van die land gerespekteer word. Die komitee wys voorts daarop dat die Weense konvensie oor diplomatieke verhoudinge vereis dat diplomate die wette van hul gasheerland moet gehoorsaam en nie in sy huishoudelike sake betrokke moet raak nie.
Die Minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Solly Malatsi, het bewerings verwerp dat die versuim om tot dusver bykomende finansiering vir die SAUK se dekking van die plaaslike regeringsverkiesing beskikbaar te stel, opsetlik was. Die SAUK en die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid het parlementslede ingelig oor die gereedheid om nuusdekking te verleen oor die verkiesing op 4 November. In vorige vergaderings is die SAUK se finansiële dilemma breedvoerig bespreek, maar daar is steeds geen aanduiding of die finansiering verkry sal word nie. Tydens gister se vergadering is bewerings gemaak dat die onsekerheid en gebrek aan befondsing opsetlik was, sodat nie alle partye dekking sou kry nie. Maar Malatsi sê dit is nie die geval nie en daar is geen besluit geneem om enige politieke party die swye op te lê nie.
Die Alternative Information and Development Centre sê Suid-Afrika het 'n belasting op rykes nodig. Die organisasie sê in 'n nuwe verslag wat in Johannesburg bekend gestel is dat die huidige belastingbeleid rykes bevoordeel, terwyl armes in skuld vasgevang word. Hy doen 'n beroep vir 'n dringende verandering van die belastingstelsel om die land se groeiende ongelykheid te oorkom. 'n Navorser van die A.I.D.C, Chloe van Biljoen, sê die belasting op rykdom en eiendom het die afgelope twintig jaar gedaal en speel nie 'n groot rol in inkomste-invordering of die herverspreiding daarvan nie.
Die Franse president, Emmanuel Macron, sê die G7-lande het ooreengekom om oor die volgende vier maande 100 miljoen vate brandstof uit voorrade vry te stel. Dit is daarop gemik om druk op brandstofpryse – veral dié van diesel, wat sedert die begin van die VSA en Israel se oorlog teen Iran skerp gestyg het – te verlig. Die olieprys het reeds skerp gedaal in afwagting van Macron se aankondiging. Die Europese Unie staan onder toenemende druk om op te tree nadat die Amerikaanse president, Donald Trump, gedreig het om dieseluitvoere na die blok te verbied. Die G7-lande het nie genoeg raffineringskapasiteit om in sy eie behoeftes te voorsien nie.
RUGBY:::: Edinburgh het die Stormers 17-13 geklop in hul Verenigde Rugbykampioenskap-kragmeting gisteraand* in Edinburg. Die Lions pak die Ospreys vanmiddag in Johannesburg. Vanaand sal die Bulls vir Munster die stryd aansê in Ierland en die Sharks kom in Durban teen die verdedigende kampioen, Leinster, te staan.