Die polisie sê hulle volg 'n leidraad op in verband met die moord op 'n tweeling in hul huis in Mamelodi-Wes in Tshwane. Die 14-jarige tienerseuns is met 'n skerp voorwerp doodgesteek. Hulle ma het in 'n slaapkamer op hul liggame afgekom toe sy van die werk af gekom het. Die Gautengse polisiewoordvoerder, Dimakatso Nevhuhulwi, sê daar is geen tekens van gedwonge toegang nie, maar die polisie het wel inligting wat hulle opvolg. Sy sê meer besonderhede kan in hierdie stadium nie bekend gemaak word nie want dit kan die ondersoek belemmer.
Gemeenskappe in Ekurhuleni gaan vandag weer betoog teen geslagsgebaseerde geweld. Dit hou verband met die moord op twaalf vroue sedert Julie vanjaar. Die slagoffers se liggame is op verskeie plekke in en om Ekurhuleni gevind. Gemeenskapslede – insluitend nie-regeringsorganisasies en studente – sal by die Kempton Park-burgersentrum byeenkom van waar hulle na die Kempton Park-polisiestasie sal opruk. Die moorde het skokgolwe deur die land gestuur. President Cyril Ramaphosa het die nasie vandeesweek toegespreek, waar hy 'n vierpuntplan van die regering aangekondig het om geslagsgeweld hok te slaan. Gemeenskapslede sal tydens vandag se protesoptrede vra vir beter beskerming van vroue en dat die polisie terugvoering sal gee oor die vordering wat gemaak word met hul ondersoeke op vrouemoorde.
'n Taverne-eienaar is by sy perseel in Mamaolo buite Lebowakgomo in Limpopo vermoor. Die polisie sê die slagoffer is met 'n voorwerp oor die kop geslaan. Die polisiewoordvoerder, Hlulani Mashaba, sê 'n groep aanvallers het met die 53-jarige man se bakkie en 'n onbekende bedrag kontant gevlug.
Die gevolge van 'n ondersoek na bewerings van korrupsie dwing die Knysna-munisipaliteit in die Wes-Kaap om sy leierskap te skommel. Drie senior munisipale amptenare is in hegtenis geneem, wat sleutelbestuursposte vakant laat. Die munisipale speaker, Mark Willemse, sê 'n senior amptenaar, Richard Martin, het as waarnemende munisipale bestuurder oorgeneem, en daar word verwag dat 'n waarnemende finansiële hoofbeampte binnekort aangestel sal word. Hy sê die munisipaliteit is onder druk, maar bly gefokus daarop om dienste aan die gang te hou.
Die president van die African Congress for Transformation, Ace Magashule, sal vandag in Welkom sy verkiesingsmanifes bekendstel in die aanloop tot die plaaslike regeringsverkiesing. Die ACT sê hy sal munisipaliteite in Gauteng, die Vrystaat, Noordwes en die Oos-Kaap betwis. Die party is in Augustus 2023 gestig. Hy het aan die nasionale verkiesing van 2024 deelgeneem, wat aan hom een setel in die Vrystaatse wetgewer besorg het.
Die Franse minister van Onderwys, Edouard Geffray sê 65 personeellede is beseer weens landwye protesoptrede deur skoliere, insluitend 40 skoolhoofde. Die betogings het vroeër vandeesweek in die hoofstad, Parys, begin, voordat dit na die res van die land versprei het. Die betogende leerlinge is ontevrede oor oorvol klaskamers, 'n tekort aan onderwysers en vervalle geboue. Meer as 400 skole is gister weens die onrus gesluit. Volgens Geffray het meer as honderd skole reeds ernstige skade opgedoen. Daar is nou reeds meer as vyfduisend mense, hoofsaaklik tieners, weens die geweld in hegtenis geneem. Hoërskoolleerlinge het gister weer in verskeie stede met die polisie slaags geraak, insluitend in Strasbourg, Marseille en Parys. Studente by sommige universiteite het intussen ook by die protesoptrede aangesluit.