Skip to content

Nuusbulletins

  • Die polisie in Mpumalanga stel ondersoek in ná 'n gyselaarsvoorval op 'n plaas in Amersfoort, waarin twee mense dood en een kritiek beseer is. 'n 55-jarige man het na bewering 'n 50-jarige man doodgeskiet en 'n persoon van 53 jaar gewond nadat hy hulle as gyselaar aangehou het. Die gewonde persoon is per helikopter na 'n hospitaal geneem. Die polisie sê die skieter het homself later doodgeskiet. Sy identiteit is aan die polisie bekend.
  • Die DA-leier en burgemeesterskandidaat vir Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, sê hulle sal toesien dat veiliger gemeenskappe in die Wes-Kaap geskep word om beleggingsgeleenthede te lok en werkgeleenthede te skep, sou hulle verkies word. Hy het duisende DA-ondersteuners toegespreek tydens die party se finale verkiesings-saamtrek in Belhar, Kaapstad. Hill-Lewis het die party se planne vir bestuur oor die volgende vyf jaar uiteengesit.
  • Die ANC-president Cyril Ramaphosa sê hy is vol vertroue dat sy party in die Vrystaat beter sal vaar in die komende plaaslike verkiesing as in die vorige een. Ramaphosa het gepraat tydens die party se deur-tot-deur-veldtog in Botshabelo, in die Mangaung-metro-munisipaliteit. Ramaphosa het bygevoeg dat hul veldtog 'n volstrekte oorwinning in die komende plaaslike verkiesing sal bewerkstellig, aangesien mense steeds vir die ANC lief is.
  • Die Afrika-Unie het die Suid-Afrikaanse regter Navi Pillay gelukgewens nadat die Nobelprys vir Vrede aan haar toegeken is. Pillay was aan die hoof van 'n onafhanklike kommissie van die Verenigde Nasies wat verlede jaar bevind het dat Israel volksmoord in die Gasastrook pleeg. Die voorsitter van die Afrika-Unie-kommissie, Mahmoud Ali Youssouf, sê Pillay se loopbaan is 'n blywende nalatenskap vir Afrika en die wêreld. Youssouf sê Pillay se prestasie is 'n bron van trots vir Afrika-vroue en -meisies, en 'n inspirasie vir toekomstige geslagte.
  • Intussen het die Amerikaanse president, Donald Trump, Noorweë gekritiseer omdat die Nobelkomitee weer nie die Nobelprys vir Vrede aan hom toegeken het nie. Trump verwys dikwels na die vredesooreenkomste wat hy al gesluit het. Volgens hom het die reputasie van Noorweë – waar die komitee gesetel is – skade gely.
  • Altesame 25 mense is nou al in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem ná die geweld wat die afgelope twee dae in Durban se middestad uitgebreek het. Sedert Donderdag is 14 voertuie en twee huise aan die brand gesteek, en is verskeie winkels geplunder. Die polisiewoordvoerder, Nonkululeko Phokane, sê vyf mense is ook in hegtenis geneem ná die geweld wat in Gauteng uitgebreek het.
  • Kenia het regeringsvergaderings en -konferensies in hotelle opgeskort nadat die eerste geval van Ebola aangemeld is. Gesondheidsbeamptes sê die stap is deel van pogings om die verspreiding van die virus te bekamp. 'n Keniaanse burger is Maandag dood nadat hy vanuit die Demokratiese Republiek van die Kongo deur Uganda gereis het.
  • RUGBY:::: Die Bulls het die Lions in die eerste Suid-Afrikaanse derby van die Verenigde Rugby-kampioenskap-seisoen in Pretoria heeltemal oorrompel. Die tuisspan het nege drieë gedruk en met 'n massiewe telling van 57–15 gewen. Vroeër vanaand het die Stormers met die Sharks in Kaapstad klaargespeel met 'n telling van 37-22.

Deel nou