Die Interministeriële Komitee oor Migrasie sê die regering sal die howe nader vir 'n bevel om te help om die Konstitusionele Hof se beslissing oor asielaansoeke in werking te stel. Die minister van Justisie, Mmamoloko Kubayi sê dit sal die howe toelaat om toesig te hou oor die proses, en die Departement van Binnelandse Sake tyd gee om sy kapasiteit te versterk. Die Konstitusionele Hof het in Julie bepalings van die Wet op Vlugtelinge ongeldig verklaar, wat onder meer verhoed het dat mense wat die land op 'n onreëlmatige wyse binnegekom het, om asiel kon aansoek doen. 'n Direktief is op 28 September in reaksie op die hofuitspraak uitgereik, wat toegang tot asielaansoeke uitgebrei het. Dit het daartoe gelei dat duisende mense na Vlugtelingesentrums gestroom het, wat hiernieude betogings teen ongedokumenteerde buitelanders in Durban en Soweto tot gevolg gehad het. Die Departement het Vrydag die direktief teruggetrek. Kubayi het die media in Pretoria toegespreek.
Die Kaapstadse polisie het 'n soektog van stapel gestuur na verdagtes wat gisteraand 'n man en 'n bejaarde vrou in Belgravia in Athlone doodgeskiet het. 'n Derde slagoffer het ook skietwonde opgedoen. 'n Polisiewoordvoerder, Wesley Twigg sê die aanval hou vermoedelik verband met bendegeweld.
Die Gautengse premier, Panyaza Lesufi het die inhegtenisneming van 'n pastoor vir die moord op 'n vier maande oue baba en die verkragting van die kind se ma, verwelkom. Die pastoor is gister ná 'n soektog in Diepsloot in Johannesburg vasgetrek. Hy sal more in die Atteridgeville-landdroshof in Pretoria verskyn. Die kind se liggaam is vroeër vandeesweek in 'n vlak graf naby die Hennopsrivier gevind. Die pastoor se twee vroue is vroeër in hegtenis geneem, en het reeds Vrydag in die hof verskyn. Lesufi sê die inhegtenisneming is die eerste stap om te verseker dat geregtigheid geskied.
'n Negejarige seun het by die Klieinmond-strandmeer in die Wes-Kaap verdrink. 'n Woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut, Craig Lambinon sê die kind het die strand saam met familie besoek toe die voorval plaasgevind het. Hy sê omstanders het die kind uit die water gehaal waar nooddienswerkers hom probeer bybring het, maar hy is op die toneel dood verklaar.
Die Mededingingskommissie sê hy hou kospryse dop te midde van kommer dat sommige vervaardigers en kleinhandelaars pryse kunsmatig hoog hou. 'n Ekonoom by die kommissie, Andeswa Shibukwa sê die pryse van produkte soos mieliemeel, brood en sonneblomolie het nog nie gedaal nie, ondanks dalings in kommoditeitspryse. Die kommissie het 'n beroep op verbruikers gedoen om ongeregverdigde prysverhogings aan te meld sodat dit ondersoek kan word. Shibukwa sê hoë pryse plaas verdere druk op verbruikers en lei daartoe dat talle skuld moet aangaan om te betaal vir noodsaaklikhede soos kos, elektrisiteit en water.