Skip to content

Nuusbulletins

Die Minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber sê sy departement gaan teen 10 November 'n registrasie- en afspraakmodel vir asielaansoeke bekendstel. Hy sê die stelsel sal bykomende veiligheidskenmerke hê wat die departement sal help om te vermy dat die stelsel misbruik word. Volgens Schreiber wil hulle verhoed dat diegene wie se aansoeke voorheen verwerp is, weer om asiel aansoek doen. Schreiber het die media in Pretoria toegespreek as deel van die Interministeriële Komitee oor Migrasie.

Die Minister van Justisie, Mmaloko Kubayi het by dieselfde mediakonferensie gesê die regering sal die howe nader vir 'n bevel om te help om die Konstitusionele Hof se beslissing oor asielaansoeke in werking te stel. Sy sê dit sal die howe toelaat om toesig te hou oor die proses, en die Departement van Binnelandse Sake tyd gee om sy kapasiteit te versterk. Die Konstitusionele Hof het in Julie bepalings van die Wet op Vlugtelinge ongeldig verklaar, wat onder meer verhoed het dat mense wat die land op 'n onreëlmatige wyse binnegekom het, om asiel kon aansoek doen. 'n Direktief is op 28 September in reaksie op die hofuitspraak uitgereik, wat toegang tot asielaansoeke uitgebrei het. Dit het daartoe gelei dat duisende mense na Vlugtelingesentrums gestroom het, wat hiernieude betogings teen ongedokumenteerde buitelanders in Durban en Soweto tot gevolg gehad het. Die Departement het Vrydag die direktief teruggetrek.

Twee mans is gisteraand doodgeskiet in Lavender Hill op die Kaapse Vlakte, in 'n aanval wat vermoedelik met bendegeweld verband hou. 'n Polisiewoordvoerder, Wesley Twigg sê 'n derde slagoffer wat gewond is, is hospitaal toe geneem vir behandeling. Volgens Twigg het aanvallers vanuit 'n voertuig skote op die slagoffers afgevuur. Die Kaapstadse polisie het ook 'n soektog van stapel gestuur na verdagtes wat gisteraand 'n man en 'n bejaarde vrou in Belgravia in Athlone doodgeskiet, en 'n derde persoon gewond het. Dié aanval hou vermoedelik ook met bendegeweld verband.

Die Kaapstadse Metro sê verskeie blyplekke is vernietig in 'n brand vanoggend in die Imizamo Yethu Wes-plaaslike nedersetting by Houtbaai. 'n Woordvoerder van die brand- en reddingsdienste, Mark Bosch sê brandbestryders en brandweervoertuie van ander stasies is ook ontplooi om te help met pogings om die brand te blus. Geen beserings is aangemeld nie. Hy sê opruimingswerk sal nog vir 'n geruime tyd voortduur, en brandbestryders sal op die toneel bly tot die gebied veilig is.

Minstens 109 migrante is dood en meer as 116 word vermis nadat 'n boot wat sowat 350 mense vervoer het, langs die kus van Djibouti omgeslaan het. Die Internasionale Organisasie vir Migrasie sê die slagoffers sluit 15 kinders in. Die voorval het vermoedelik Donderdagnag plaasgevind terwyl die boot van Djibouti na Jemen onderweg was. Die 80 mense wat die ramp oorleef het, is almal Ethiopiese burgers.

Die Houthi-rebellegroep in Jemen het lugrederye en passasiers intussen gewaarsku om nie lughawens in Saoedi-Arabië te gebruik nie. Dit volg nadat 12 mense gister dood is in 'n aanval op die King Khalid-internasionale lughawe in die hoofstad, Riyadh. Meer as 300 mense is ook in die aanval beseer. Dit is die dodelikste enkele aanval op 'n Golfland sedert die begin van die oorlog tussen Israel, die VSA en Iran in Februarie. Die Houthis se militêre woordvoerder, Yahya Saree het nie spesifiek na gister se aanval verwys nie, maar sê Saoedi-Arabiese lughawens is potensiële teikens vir die groep, en dat Saoedi-Arabië self aanspreeklik is vir mislukte pogings om aanvalle te onderskep. Die Houthis het wel vroeër vandeesweek aanspreeklikheid aanvaar vir aanvalle op die King Khalid-lughawe sowel as twee ander in Saoedi-Arabië, wat drie lewens geëis het.

Krieket: Die Proteas het kort gelede op 142 vir vier gestaan op die derde dag van die eerste toets teen Australië op Kingsmead. Die Suid-Afrikaners het die dag begin op 27 vir een. Aiden Markram, die kaptein Temba Bavuma en David Bedingham is almal voor etenstyd uitgehaal. Australië het in hulle eerste kolfbeurt 390 lopies aangeteken.

Deel nou