Skip to content

Nuusbulletins

4 November 2026 14:00

Vier lede van 'n gesin is dood gevind ná 'n skietvoorval by Grassland 2 in Bloemspruit in Bloemfontein. 'n Polisiewoordvoerder, Thabo Covane sê die liggame van die 35-jarige veiligheidsbeampte, sy 33-jarige vrou en hulle 15-jarige dogter is vanoggend in hulle HOP-huis gevind. Hulle vierjarige seun is na 'n hospitaal gehaas, maar het later aan sy wonde beswyk. Die ondersoek duur voort.

Die leier van die ANC, Cyril Ramaphosa, sê hy is positief dat sy party goed sal vaar in vandag se plaaslike regeringsverkiesing. Hy het met die media gepraat nadat hy by die Hyde Park hoërskool in Johannesburg gestem het. Hy het 'n beroep op besluitlose kiesers gedoen om wel te stem. Ramaphosa sê hoewel daar uitdagings in munispaliteite is, is die regering vasbeslote om plaaslike strukture te herbou om beter omstandighede vir almal te skep ,soos wat dit in die nasionale ontwikkelingsplan vervat is.

Die leier van die Vryheidsfront Plus, Corné Mulder is een van 3-duisend 300 kiesers wat by die Koeberg biblioteek in Melkbosstrand in Kaapstad stem. Mulder het die groot opkoms van kiesers verwelkom en sê dit is 'n aanduiding dat kiesers hul stem wil laat hoor.

Die leier van die Patriotic Alliance, Gayton McKenzie sê intussen die media was bevooroordeeld teenoor sy party tydens sy verkiesingsveldtog. McKenzie het vanoggend in Heidedal in Bloemfontein gestem. Hy sê ondanks die ongunstige mediadekking glo hy dat die PA in vandag se verkiesing goed sal vaar.

Iran se hoofonderhandelaar in samesprekings met die VSA, Mohammad Bagher Ghalibaf sê Amerikaanse kiesers het die oorlog teen Iran verwerp, en dat die Amerikaanse regering nie openbare opinie moet ignoreer deur weer sy land aan te val nie. Hy het gereageer op uitslae van die Amerikaanse middeltermynverkiesing, wat toon dat Demokrate beheer oor die Senaat en die Huis van Verteenwoordigers gaan oorneem. Die Amerikaanse president, Donald Trump het vroeër toegegee dat die oorlog in Iran 'n rol gespeel het in die Republikeine se nederlaag vanweë ontevredenheid oor die korttermyn-impak van hoë brandstofpryse. Hy hou egter vol dat Amerikaners die belangrikheid van die oorlog op die langermyn verstaan en dit steun. Daar word wyd bespiegel dat Amerika ná die verkiesing weer aanvalle op Iran kan hervat.

Deel nou