Skip to content

Nuusbulletins

4 November 2026 17:00

Die voormalige president Thabo Mbeki het nadat hy in Killarney in Johannesburg gestem het, die media toegespreek oor die Amerikaanse middeltermynverkiesing. Hy het kommentaar gelewer op die kiesers se besluit om vir die Demokrate te stem, wat nou beheer oor beide die Senaat en die Huis van Verteenwoordigers het. Volgens Mbeki is dit 'n aanduiding dat baie Amerikaners ontevrede is met president Donald Trump se administrasie. Mbeki sê egter dat die Amerikaanse bevolking sal moet wag om te sien of die Demokrate se oorwinning enige verandering in die Amerikaanse buitelandse beleid teweeg sal bring.

Die Verkiesingskommissie sê volgens voolopige aanduidings het drie-komma-vyf miljoen kiesers teen tienuur vanoggend landwyd hulle stemme uitgebring. Die OVK skryf die spoed waarteen kiesers se stemme verwerk word toe aan die vernuwings wat vir die 2026-plaaslike regeringsverkiesing ingestel is. Dit sluit in die gebruik van mobiele skandeerders, wat aan die kieserbestuurstoestelle gekoppel is. Die adjunk-hoofkiesbeampte, Masego Shiburi, sê die OVK is veral bemoedig deur kiesers wat vroeg-oggend gaan stem het om 'n gejaag teen laatmiddag en vroegaand te vermy. Stembusse sluit om negeuur vanaand.

Boere van die Normandien-gebied buite Newcastle in KwaZulu-Natal wat in vandag se plaaslike regeringsverkiesing stem, sê hulle word ook geraak deur probleme met munisipale dienste. Hoewel baie boere boorgate het en hulle eie elektrisiteit opwek, sê van die boere hulle moet nogsteeds paaie in die gebied gebruik, wat in 'n baie slegte toestand is. Juanita Geldenhuys van die plaas Eagles Cliff sê intussen die meerderheid van hulle plaaswerkers het aangedui dat hulle nie vandag wil stem nie.

'n Verdagte is in hegtenis geneem ná 'n skietery en 'n hoëspoedjaagtog naby Philippi op die Kaapse Vlakte. 'n Woordvoerder van die Kaapstadse Metropolisie, Ruth Solomons sê beamptes het 'n voertuig agterna gesit wat teen 'n hoë spoed teen aankomende verkeer ingery het. Tydens die jaagtog het die verdagtes op die Metropolisievoertuig losgebrand en beamptes het teruggeskiet. Die bestuurder van die voertuig is vasgetrek maar vier ander verdagtes het van die toneel gevlug. Solomons sê beamptes het ammunisie, medikasie, leë drankbottels en die karkas van 'n ongeïdentifiseerde dier in die voertuig gevind.

Iran se Rewolusionêre Wag sê vier olietenkskepe is vernietig nadat seemyne in die Straat van Hormoes getref is. Volgens Iranse media is daar ook beheer geneem oor twee bykomende tenkskepe wat probeer het om 'n verbode roete in die suide van die Straat van Hormoes te gebruik. Iran het gister ook beweer dat drie tenkskepe vernietig is, nadat Amerika beperkte aanvalle op 'n eiland in die Straat van Hormoes uitgevoer het. Samesprekings om die konflik te beëindig is al vir maande op 'n dooiepunt, hoewel onderhandelings deur middel van bemiddelaars voortduur.

Deel nou