Skip to content

Nuusbulletins

4 November 2026 18:00

Die provinsiale kiesbeampte van die OVK in die Wes-Kaap, Michael Hendricks, sê probleme met kieserbestuurtoestelle het tot lang toue by sommige stembusse in die Kaapstad metro gelei. Hy het lede van die media by die provinsiale verkiesingsentrum in Kaapstad toegespreek. Volgens Hendricks is vertragings teen twaalfuur vanmiddag uit die weg geruim namate die toestelle weer aanlyn gekom het. Hy sê die OVK het egter bykomende personeel ontplooi om die probleme uit te sorteer.

Die Verkiesingskommissie in die Noord-Kaap sê die uiters warm toestande wat oor die provinsie voorkom, is rede tot kommer wat vandag se stemproses betref. Die provinsiale hoof van die OVK, Alkin Topkin, sê hulle hoop dat kiesers nie deur die versengende hitte weerhou sal word om te stem nie. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het temperature van tot 40 grade Celsius vir plekke soos Upington voorspel. Die OVK sê baie kiesers in die provinsie het vroeg gestem, waarna daar teen halftien vanoggend heelwat minder aktiwiteit by die stembusse was. Topkin sê hulle verwag teen laatmiddag weer 'n toename in kiesers by die stemlokale, wat om negeuur vanaand sluit.

Vier mense is in hegtenis geneem vir openbare geweld nadat hulle glo polisiebeamptes met klippe en bierbottels in Hanover Park op die Kaapse Vlakte bestook het. Een beampte is lig beseer in die voorval. Die polisiewoordvoerder, Andre Traut, sê beamptes het ingegryp toe twee groepe vanoggend klippe na mekaar gegooi het. Traut sê die een groep het daarna die polisiebeamptes aangeval, waarna die beamptes waarskuwingskote afgevuur het. Traut sê die verdagtes is vermoedelik verbonde aan 'n plaaslike bende.

'n Verdagte is in hegtenis geneem ná 'n skietery en 'n hoëspoedjaagtog naby Philippi op die Kaapse Vlakte. 'n Woordvoerder van die Kaapstadse Metropolisie, Ruth Solomons sê beamptes het 'n voertuig agterna gesit wat teen 'n hoë spoed teen aankomende verkeer ingery het. Tydens die jaagtog het die verdagtes op die Metropolisievoertuig losgebrand en beamptes het teruggeskiet. Die bestuurder van die voertuig is vasgetrek maar vier ander verdagtes het van die toneel gevlug. Solomons sê beamptes het ammunisie, medikasie, leë drankbottels en die karkas van 'n ongeïdentifiseerde dier in die voertuig gevind.

Die voormalige president Thabo Mbeki het nadat hy in Killarney in Johannesburg gestem het, die media toegespreek oor die Amerikaanse middeltermynverkiesing. Hy het kommentaar gelewer op die kiesers se besluit om vir die Demokrate te stem, wat nou beheer oor beide die Senaat en die Huis van Verteenwoordigers het. Volgens Mbeki is dit 'n aanduiding dat baie Amerikaners ontevrede is met president Donald Trump se administrasie. Mbeki sê egter dat die Amerikaanse bevolking sal moet wag om te sien of die Demokrate se oorwinning enige verandering in die Amerikaanse buitelandse beleid teweeg sal bring.

Verskeie wêreldleiers en regerings het gereageer op die uitslae van gister se middeltermynverkiesing in Amerika. Die Spaanse eerste minister, Pedro Sanchez sê Amerikaners het gestem teen haat, klimaat-ontkenning en die bevoorregte elite. Die eerste minister van Noorweë, wat onlangs deur Trump gekritiseer is omdat hy nie die Nobelprys vir vrede gewen het nie, sê dit lyk of stemme nou in Amerika ontluik wat meer in ooreenstemming is met Noorweë se beginsels. Die visepresident van die Europese Parlement, Christel Schaldemose sê sy is versigtig optimisties dat die uitslae groter steun vir Oekraïne tot gevolg kan hê. Die Kremlin in Rusland het intussen gesê hulle hoop die uitslae sal nie 'n impak hê op Trump se pogings om vrede te bewerkstelling nie.

Deel nou