Die polisie in KwaZulu-Natal ondersoek 'n inbraak nadat stembriewe en ander sensitiewe materiaal soos kieserslyste en ink van die OVK, by 'n stemlokaal by 'n skool in Hillcrest wes van Durban gesteel is. Die materiaal is na bewering gisteraand in 'n buitegebou gelaat wat nie gesluit was nie. Die polisiewoordvoerder, Robert Netshiunda, sê die polisie stel ondersoek in waarom die verkiesingsmateriaal 'n dag voor stemdag, sonder polisiebegeleiding by die stemlokaal afgelewer is. Hy sê toe die voorsittende beampte vanoggend by die skool aankom, het sy opgemerk dat die skoolhek oop was en dat daar mense buite die hek gestaan het. Netshiunda sê sy het na die buitegebou gegaan waar sy vasgestel het dat die stembriewe en verkiesingsmateriaal gesteel is. Die saak is daarna by die polisie aangemeld.
Die provinsiale kiesbeampte van die OVK in die Wes-Kaap, Michael Hendricks, sê probleme met kieserbestuurtoestelle het tot lang toue by sommige stembusse in die Kaapstad metro gelei. Hy het lede van die media by die provinsiale verkiesingsentrum in Kaapstad toegespreek. Volgens Hendricks is vertragings teen twaalfuur vanmiddag uit die weg geruim namate die toestelle weer aanlyn gekom het. Hy sê die OVK het egter bykomende personeel ontplooi om die probleme uit te sorteer.
Die Verkiesingskommissie in die Noord-Kaap sê die uiters warm toestande wat oor die provinsie voorkom, is rede tot kommer wat vandag se stemproses betref. Die provinsiale hoof van die OVK, Alkin Topkin, sê hulle hoop dat kiesers nie deur die versengende hitte weerhou sal word om te stem nie. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het temperature van tot 40 grade Celsius vir plekke soos Upington voorspel. Die OVK sê baie kiesers in die provinsie het vroeg gestem, waarna daar teen halftien vanoggend heelwat minder aktiwiteit by die stembusse was. Topkin sê hulle verwag teen laatmiddag weer 'n toename in kiesers by die stemlokale, wat om negeuur vanaand sluit.
Vier mense is in hegtenis geneem vir openbare geweld nadat hulle glo polisiebeamptes met klippe en bierbottels in Hanover Park op die Kaapse Vlakte bestook het. Een beampte is lig beseer in die voorval. Die polisiewoordvoerder, Andre Traut, sê beamptes het ingegryp toe twee groepe vanoggend klippe na mekaar gegooi het. Traut sê die een groep het daarna die polisiebeamptes aangeval, waarna die beamptes waarskuwingskote afgevuur het. Traut sê die verdagtes is vermoedelik verbonde aan 'n plaaslike bende.
Verskeie wêreldleiers en regerings het gereageer op die uitslae van gister se middeltermynverkiesing in Amerika. Die Spaanse eerste minister, Pedro Sanchez sê Amerikaners het gestem teen haat, klimaat-ontkenning en die bevoorregte elite. Die uitslae toon dat die Demokrate beheer oor die Senaat, sowel as die Huis van Verteenwoordigers by die President Donald Trump se Republikeine gaan oorneem. Die eerste minister van Noorweë, wat onlangs deur Trump gekritiseer is omdat hy nie die Nobelprys vir vrede gewen het nie, sê dit lyk of stemme nou in Amerika ontluik wat meer in ooreenstemming is met Noorweë se beginsels. Die visepresident van die Europese Parlement, Christel Schaldemose sê sy is versigtig optimisties dat die uitslae groter steun vir Oekraïne tot gevolg kan hê. Die Kremlin in Rusland het intussen gesê hulle hoop die uitslae sal nie 'n impak hê op Trump se pogings om vrede te bewerkstelling nie.
Tennis.... Die wêreld se nommer een speler, Alexander Zverev het vasgeval teen die Italianer, Lorenzo Musetti op dag vyf van die Parys Meestertoernooi. Musetti, tans 24ste op die wêreldranglys het die kragmeting 7--6, 6--2 gewen. Hy het voorheen tot die halfeindstryd van sowel die Franse Ope as Wimbledon deurgedring, maar het vanjaar onder 'n reeks beserings deurgeloop. Zverev, wat sedert Maandag bo-aan die wêreldraglys is, het egter wel reeds sy plek by die ATP-eindtoernooi in Turyn verseker.