Met net meer as 97-persent van die stemme landwyd in die 2026-plaaslike regeringsverkiesing getel is, is die ANC steeds nasionaal aan die voorpunt met 31-persent van die stemme, gevolg deur die DA met 25-persent en die MK-party in die derde plek met 10-persent van die stemme. Hoewel die ANC in 115 rade die meeste stemme gekry het, het hy slegs beheer in 48. Die DA loop in 27 rade voor en het in 11 rade 'n volstrekte meerderheid behaal. In provinsies soos die Vrystaat, die Noord-Kaap en Mpumalanga is al die stemme getel. In Limpopo is 98-persent van die stemme verwerk, terwyl die Wes-Kaap en Noordwes nou op 97-persent staan. In KwaZulu-Natal is 96-persent van die stemme getel, met Gauteng - waar daar verskeie metro's is, tans op 92-persent staan.
Die EFF sê hy sal nie in die Vrystaat tot koalisie-regerings toetree bloot ter wille van mag nie. Die party sê enige moontlike koalisie-ooreenkoms moet waarborg dat sy beleid geïmplementeer word – veral wat betref die bekamping van tenderkorrupsie en die versterking van die staat se vermoë. Die EFF se LPW in die Vrystaat, Mapheule Liphoko, sê die party oorweeg sy opsies in munisipaliteite waar geen party 'n volstrekte meerderheid het nie. Dit sluit in om by ander partye in die regering aan te sluit of om in die opposisiebanke te dien. Hy sê die EFF aanvaar die kiesers se mandaat, ondanks 'n effense afname in sy verkiesingsteun. Met al die stemme in dié provinsie geverifieer, het die EFF agt persent van die steun gelok teenoor die ANC se 37 persent en die DA se 28 persent.
Die Suid-Afrikaanse Kommuniste Party sê sy verkiesingsprestasie is gedryf deur gemeenskapswerk op voetsoolvlak, eerder as deur tradisionele verkiesingsveldtogte. Die party, wat die ANC histories as deel van die drieparty-alliansie ondersteun het, het onafhanklik aan die plaaslike regeringsverkiesings van 2026 deelgeneem. Op nasionale vlak het die SAKP twee-komma-vier persent* van die stemme verwerf. Die party se hoofsekretaris, Solly Mapaila, sê dat die SAKP geen politieke party in koalisiegesprekke steun nie. Hy sê die party sal eerder 'n vergadering belê van linkse groeperings wat aan die verkiesing deelgeneem het, om 'n gemeenskaplike agenda en moontlike toekomstige samewerking te bespreek.
Die ANC se verkiesingsteun het in dele van die Sarah Baartman-distrik in die Oos-Kaap gedaal. Die party het sy volstrekte meerderheid in vier munisipaliteite in die distrik verloor. Een van die munisipaliteite waar die ANC se steun gedaal het, is die Makana-munisipaliteit in Makhanda – een van die party se vestings in die streek. Die ANC se verteenwoordiging in die raad het van 13 setels tot 10 gedaal. Die ANC se streeksvoorsitter vir Sarah Baartman, Mabhuti Matyumza, sê dat hulle, ongeag die statistieke, steeds die steun en vertroue van hul kiesers het.
Die saak teen vyf buitelanders, wat verbind word met 'n onwettige dwelmvervaardigingsaanleg ter waarde van miljoene rand, is in die Musina-streekhof in Limpopo tot 29 Januarie volgende jaar uitgestel. Die beskuldigdes is in September op 'n plaas buite Musina in hegtenis geneem vir die beweerde vervaardiging van dwelmmiddels. Hulle word aangekla van die onwettige vervaardiging van dwelms, die besit van dwelms, geldwassery en oortreding van die Wet op Immigrasie. Die vyf beskuldigdes het hul borgtogaansoeke laat vaar. Die saak is uitgestel vir verdere ondersoek.
Die Amerikaanse president, Donald Trump, het aangekondig dat sy adjunk-stafhoof, Stephen Miller, nou tot stafhoof bevorder is. Hy vervang Susie Wiles wat na Trump se politieke struktuur skuif. Wiles sal van Maandag af betrokke wees by geldinsamelings en die beplanning van politieke strategieë. Trump het op sosiale media gesê Wiles het haar uitstekend van haar taak gekwyt. Wiles het gesê hoewel haar rol verander, sal haar toewyding aan die president nie verander nie.