Skip to content

Nuusbulletins

7 November 2026 11:00

Die aantal stemme wat landwyd getel is sedert Suid-Afrikaners Woensdag hul kruisies in die plaaslike regeringsverkiesing getrek het, staan steeds op 98-persent. Die ANC loop nasionaal voor met bykans 31 persent van die stemme, gevolg deur die DA met 25 persent en die MK-party in die derde plek met 10-persent van die stemme. Hoewel die ANC in 115 rade die meeste stemme gekry het, sal hy slegs beheer hê in 48 rade. Die DA loop in 27 rade voor en het 'n volstrekte meerderheid in 11 behaal, terwyl die MK-party in 18 rade voorloop en in drie rade beheer het. Volgens die jongste uitslae het die ANC nou op nasionale vlak drieduisend-61 setels, gevolg deur die DA met duisend-384, en die MK-party met 676.

Nadat al die stemme in die Nelson Mandelabaai metro in die Oos-Kaap getel is, het die DA sy voorsprong op die ANC met 19 persentasiepunte vergroot. Hoewel dit nie 'n volstrekte meerderheid is nie, het die DA die verkiesing in die provinsie se grootste metro met 44 persent gewen. Hiermee het hulle 53 setels in die raad verseker. Die ANC het 25 persent van die stemme gekry, wat op 32 setels neerkom. In 2021 het die DA die ANC egter net-net – met slegs 0,5 persentasiepunte – geklop in 'n hewige stryd om beheer oor die metro. Albei partye het destyds 48 setels verower. Die EFF sal weer die derde grootste party in die raad wees, terwyl die SAKP drie setels met 3 persent van die stemme verwerf het.

Die Demokratiese Alliansie oorheers steeds die Kaapstad metro en loop voor met 57-persent van die stemme nadat 96-persent getel is. Die ANC is in die tweede plek met 13-komma-vier persent, terwyl die Patriotic Alliance in die derde plek is met bykans 4 persent. Kaapstad is die enigste metro waar 'n party 'n volstrekte meerderheid behaal het. Die plaaslike regeringsverkiesing van 2026 het min verandering in die politieke landskap van dié metro. Die DA het sy volstrekte meerderheid in die metro, wat hy tydens die plaaslike regeringsverkiesing van 2021 behaal het, behou. Verder was daar in vanjaar se verkiesing ook 'n afname in steun vir die EFF, aangesien die party sy derde plek aan die Patriotic Alliance afgestaan ​​het.

Met 100 persent van die stemdistrikte in Mahikeng, die hoofstad van Noordwes, verklaar, bly die ANC die leidende party met 44 persent van die stemme. Die EFF het 14 persent van die stemme op hom verenig, en die DA effens net meer as 11 persent. Die ANC se 44 persent kom neer op net meer as 60-duisend stemme en het dié party 34 setels bekom. Die ANC het egter slegter vertoon vergeleke met die 2021 plaaslike regeringsverkiesing, toe hy 56-persent van die stemme gekry het. Die EFF het ook teruggesak van 25-persent in 2021 na 14-persent vanjaar. Die uitslae dui op 'n meer gefragmenteerde politieke landskap in Mafikeng. Hoewel die ANC sy posisie as die grootste party behou, is sy steun aansienlik minder as in vorige verkiesings. Dit volg nadat die uitslae van 97 persent van die stemdistrikte in Noordwes nou verklaar is.

Die regering van Haïti het die dood van 'n bendeleier, Matthias Saintil, bevestig. Saintil het 'n deel van die hoofstad, Port-au-Prince, beheer. Die aankondiging kom terwyl Haïti sy veiligheidsoperasie teen misdadige bendes uitbrei en probeer om die land in 'n voldoende mate te stabiliseer sodat verkiesings volgende jaar gehou kan word. In 'n plasing op sosiale media het Haïti se eerste minister gesê dat daar nou een bendeleier minder is en dat die stryd om die Karibiese land uit die greep van misdadigers te bevry, met vasberadenheid voortgesit word. Saintil het na bewering Donderdagaand ernstige buikwonde opgedoen tydens 'n hommeltuigaanval in die hoofstad, en is die volgende dag dood terwyl hy mediese behandeling ontvang het. Hy was 'n sleutelfiguur in die stryd tussen bendes om beheer te kry oor Port-au-Prince en omliggende gebiede. Die situasie het die afgelope jare tot 'n toename in moorde en ontvoerings gelei.

Tanzanië se opposisieleier, Tundu Lissu, is tot vier jaar tronkstraf gevonnis nadat hy aan aanhitsing skuldig bevind is. Lissu is vrygespreek aan hoogverraad. Hy is in April verlede jaar in hegtenis geneem terwyl hy stemme gewerf het in die presidentsverkiesing. Hy is van hoogverraad aangekla nadat hy in 'n toespraak gesê het die publiek moet in opstand kom teen die verkiesing. Veiligheidsmagte het daarna hardhandig teen betogers opgetree te midde van bewerings dat teenstanders van die regering ontvoer word. Lissu het aangevoer dat hy 'n beroep gedoen het vir hervormings en dat sy uitlatings nie misdadig was nie.

Deel nou