Die vermeende kartellid Vusimuzi "Cat" Matlala verskyn Maandag weer voor die Madlanga-kommissie in Pretoria. Hy sal sy onafgehandelde getuienis by die kommissie voortsit. Matlala is 'n sentrale figuur in 'n web van beweerde korrupsie, georganiseerde misdaad en polisie-infiltrasie. Die kommissie het sy getuienisleiers en Matlala se regspan opdrag gegee om skriftelike betoë in te dien oor die implikasies van 'n gedeelte van Artikel 105 van die Strafproseswet, wat 'n beskuldigde toelaat om skuldig te pleit in ruil vir 'n vonnis waarop daar ooreengekom word.
Die aantal stemme wat landwyd getel is sedert Suid-Afrikaners Woensdag hul kruisies in die plaaslike regeringsverkiesing getrek het, staan steeds op 98-persent. Die ANC loop nasionaal voor met bykans 31 persent van die stemme, gevolg deur die DA met 25 persent en die MK-party in die derde plek met 10-persent van die stemme.
Met 100 persent van die stemdistrikte in Mahikeng, die hoofstad van Noordwes, verklaar, bly die ANC die leidende party met 44 persent van die stemme. Die EFF het 14 persent van die stemme op hom verenig, en die DA effens net meer as 11 persent. Die ANC se 44 persent kom neer op net meer as 60-duisend stemme en het dié party 34 setels bekom. Die ANC het egter slegter vertoon vergeleke met die 2021 plaaslike regeringsverkiesing, toe hy 56-persent van die stemme gekry het.
Die regering van Haïti het die dood van 'n bendeleier, Matthias Saintil, bevestig. Saintil het 'n deel van Port-au-Prince beheer. Hy was 'n sleutelfiguur in die stryd tussen bendes om beheer te kry oor die hoofstad en omliggende gebiede. Saintil het na bewering Donderdagaand ernstige buikwonde opgedoen tydens 'n hommeltuigaanval op die hoofstad, en is die volgende dag dood terwyl hy mediese behandeling ontvang het.