Skip to content

Nuusbulletins

7 November 2026 13:00

Terwyl die stemtellery in Gauteng byna afgehandel is, sê die OVK dat besware wat by die kommissie ingedien is, steeds die finalisering van uitslae in sommige gebiede kan beïnvloed. Die DA het beheer oor die MidVaal-munisipaliteit behou, en die ANC oor die Rand West City-munisipaliteit. Daar is egter steeds stemuitslae wat betwis word.

Die ANC in Gauteng sê die party het 35 formele besware by die OVK ingedien. Die Verkiesingskommissie het aan politieke partye tot gister kans gegee om formeel beswaar te maak teen onreëlmatighede of wesenlike teenstrydighede in verkiesing.

Die DA se burgemeesterskandidaat vir die Nelson Mandelabaai-metro, Retief Odendaal, sê die party wil 'n stabiele koalisie-regering hê wat 'n klein aantal partye insluit. Hy het ook gesê dat die EFF nie deel ingesluit sal word by die koalisie-regering nie. Die DA het 53 setels in die metro-raad, wat uit 120 setels bestaan, verower. Die party benodig 8 setels van ander partye om 'n regerende koalisie in die raad te verseker.

Die leier van die Vryheidsfront Plus, Corné Mulder, sê die party is oop vir koalisiegesprekke ná die plaaslike regeringsverkiesing. Hy het dit egter duidelik gestel dat sy party nie deel wil wees van enige reëling met die ANC nie. Die VF Plus is ook nie te vinde vir koalisie-ooreenkomste met die EFF en die MK-party nie. Mulder sê sy party sal finale koalisie-besluite neem wanneer al die finale verkiesingsuitslae geverifieer is. Met die Vryheidsfront Plus wat net meer as drie-persent van die stemme op hom beteken het en sodoende 155 setels bekom het, sê Mulder sy party het sy ondersteuningsbasis en verteenwoordiging uitgebrei. Volgens Mulder verstewig dit sy posisie in koalisie-onderhandelings in verskeie munisipaliteite.

Die vermeende kartellid Vusimuzi "Cat" Matlala verskyn Maandag weer voor die Madlanga-kommissie in Pretoria. Hy sal sy onafgehandelde getuienis by die kommissie voortsit. Matlala is 'n sentrale figuur in 'n web van beweerde korrupsie, georganiseerde misdaad en polisie-infiltrasie. Die kommissie het sy getuienisleiers en Matlala se regspan opdrag gegee om skriftelike betoë in te dien oor die implikasies van 'n gedeelte van Artikel 105 van die Strafproseswet, wat 'n beskuldigde toelaat om skuldig te pleit in ruil vir 'n vonnis waarop daar ooreengekom word.

Die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, sê sy span sal Italië respekteer en nie daarop gefikseer wees om 'n bonuspunt te kry voordat sy span die wedstryd gewen het nie. Suid-Afrika speel vanmiddag teen Italië in Turin in die Nasieskampioenskapswedstryd. Die Bokke het 'n bonuspunt nodig om druk op Nieu-Seeland te plaas wat vanmiddag teen Skotland speel.

Deel nou