- Die ANC sê hy is nederig gestem deur die uitslae van die plaaslike regeringsverkiesing en sal besin oor die boodskap wat Suid-Afrikaners aan hom oorgedra het. Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het die media by die Verkiesingskommissie se uitslagsentrum in Midrand toegespreek.
- Die OVK se provinsiale verkiesingsbeampte, Michael Hendrickse, sê alle wesenlike besware wat verband hou met die verkiesingsproses in die Wes-Kaap, is deur die Verkiesingskommissie opgelos. Al die stemme in die Wes-Kaap is nou getel en bevestig. Die DA het 54 persent van die stemme gelok, die ANC 15 persent en die Patriotic Alliance 7 persent.
- Al die stemme is ook in Mpumalanga getel. Die ANC 44 persent van die stemme gelok, gevolg deur die DA met 15 persent en die EFF met 10 persent. Die Suid-Afrikaanse Kommuniste Party het Wyk 17 in Steve Tshwete gewen, wat die stemtelling in al 17 munisipaliteite in Mpumalanga tot 'n einde gebring het. Die party het die wyk verower deur middel van 'n muntgooi, nadat hulle en die ANC gelykop geëindig het met 966 geldige stemme elk.
- Die MK-party het 'n beroep op die Verkiesingskommissie gedoen om nie môre die verkiesingsuitslae bekend te maak voordat alle uitstaande besware afgehandel is nie. Die MK-party het op 'n mediakonferensie in Durban gesê hy het onreëlmatighede in die eThekwini-gebied geïdentifiseer wat volgens hom ondersoek moet word voordat die uitslae gefinaliseer kan word. Die party het aangedui dat hy regstappe kan oorweeg om die uitslae te betwis.
- Altesame 18 verskillende politieke partye sal in die nuwe raad van Nelson Mandelabaai in die Oos-Kaap verteenwoordig word. Die DA het die meeste setels, 53, maar dit is te min om die raad van 120 setels te beheer. Die ANC het 32 setels. Die EFF het sewe setels, terwyl die Suid-Afrikaanse Kommuniste Party en die Patriotic Alliance elk 4 setels het. Die Mayibuye Civic Movement is 'n plaaslike party wat genoeg steun vir twee setels verwerf het – dieselfde as die gevestigde nasionale partye ActionSA en die MK-party. Agt ander partye het elk een setel verwerf. Die metro word gekenmerk deur onstabiliteit, met probleme rakende bestuur en finansiële beheer wat in die parlement uitgewys is.
- Swaar reën het tienduisende tente, waarin ontheemde Palestyne in kampe regoor die Gazastrook saamgepak is, oorstroom. Die water het skuilings weggespoel en komberse en matrasse deurweek, het plaaslike owerhede gesê. Die mediakantoor van die Hamas-beheerde regering in Gaza het gesê dat minstens 70-duisend tente die afgelope 12 uur oorstroom is. Dit het tienduisende ontheemdes geraak en tot beserings gelei, hoewel geen sterftes aangemeld is nie.
- RUGBY:::: Die Springbokke het Italië 'n les geleer en hulle met 66-7 geklop in 'n Nasieskampioenskap-wedstryd in Turyn. Suid-Afrika het die wedstryd reeds in die eerste helfte beklink deur ses drieë te druk en met 45-0 voor te loop teen rustyd. Italië het in die tweede helfte beter weerstand gebied en daarin geslaag om een drie te druk – 'n skrale troosprys. Die Bokke was in die tweede helfte wel nie so klinies nie, maar het steeds nog drie keer die doellyn oorgesteek om 'n oortuigende oorwinning te behaal. Losskakel Sacha Feinberg-Mngomezulu het 26 punte aangeteken, wat een drie, nege doelskoppe en 'n strafdoel ingesluit het.
Nuusbulletins