Skip to content

Nuusbulletins

Vyf vermeende transitorowers is dood ná 'n oor en weer skietery met die polisie in Gqeberha in die Oos-Kaap. Die Valke sê die verdagtes het na bewering gister 'n voertuig van IziCash Solutions geteiken. Polisiebeamptes het later die voertuie wat in die rooftog betrokke was opgespoor en agterna gesit, waarna verdagtes op beamptes losgebrand het. Die polisie het teruggeskiet en vyf verdagtes is noodlottig gewond. Nog verdagtes het met 'n onbekende bedrag kontant gevlug. Twee vuurwapens wat aan veiligheidswagte behoort het, is ook gesteel. Geen polisiebeamptes of veiligheidswagte is beseer nie.

President Cyril Ramaphosa het 'n beroep op politieke partye gedoen om in goeder trou saam te werk om ooreenkomste te bereik oor die verkiesing van burgemeesters en ander amspdraers, sodat munisipale rade kan begin werk vir hulle gemeenskappe. Ramaphosa reageer in sy weeklikse brief aan Suid-Afrikaners op die uitslae van verlede week se plaaslike regeringsverkiesing, wat gisteraand amptelik bekend gemaak is. Die uitslae toon dat daar minstens 137 munisipaliteite is waar geen party 'n volstrekte meerderheid behaal het nie. Ramaphosa vra partye om saam te werk om te bewys dat hulle die vertroue verdien wat kiesers in hulle geplaas het.

Die DA in KwaZulu-Natal sê hy sien uit daarna om in 'n koalisieregering saam met ander politieke partye te werk wat gewillig is om dienste aan gemeenskappe te lewer, werkloosheid te verlig en korrupsie te beveg. Die DA se provinsiale leier, Sithembiso Ngema het dit egter duidelik gemaak dat sy party nie bereid is om saam met MK-party en die EFF te regeer nie weens fundamentele verskille in hulle benaderings tot regering. Volgens hom twyfel hy of 'n party wat gedurig sy leierskap verander stabiliteit in 'n munisipaliteit teweeg kan bring.

In ander nuus: City Power in Johannesburg sê tegniese spanne en ingenieurs werk om die omvang van die skade te bepaal, ná 'n brand vroeg gisteroggend by die Mayfair-substasie. Dit het duisende inwoners en sake-ondernemings in gebiede soos Mayfair, Auckland Park, Vrededorp en Brixton sonder elektrisiteit gelaat. Instellings wat geraak word sluit in die SAUK in Auckland Park en die Garden City-hospitaal in Mayfair. Volgens City Power het swaar reën oornag herstelwerk vertraag, terwyl alternatiewe kragtoevoer uitgeskakel moes word weens vrese dat dit die oorblywende netwerk kan oorlaai. 'n Woordvoerder, Isaac Mangena sê hulle verwag dat kragtoevoer geleidelik herstel sal word sodra infrastruktuur herstel is.

'n Aanvaller wat Saterdag ses mense in Krakow in Pole doodgeskiet het, het vanoggend in die hospitaal aan sy wonde beswyk. Die aanvaller is deur polisiebeamptes gewond en in hegtenis geneem, kort nadat hy vanuit sy motor losgebrand het op mense op Krakow se historiese markplein. Nog 15 mense, insluitend twee polisiebeamptes en vyf buitelandse burgers, is hospitaal toe geneem met skietwonde. Volgens Poolse owerhede is die 24-jarige moontlike deur ver-regse ideologie beïnvoed. Die liggame van sy ouers en suster is ook gevind toe die polisie ná die aanval sy huis deursoek het.

Deel nou