Skip to content

Nuusbulletins

Die Madlanga-kommissie in Pretoria het beslis dat die getuienis van die waarnemende sameroeper van die Nasionale Intelligensie-koördineringskomitee, Ntandazo Sifolo, in 'n oop sitting sal begin voordat dit agter geslote deure voortgesit sal word. Die verrigtinge agter geslote deure sal handel oor geklassifiseerde dokumente en ander bewyse wat nie in 'n oop sitting bespreek kan word nie. Die Kommissie het verder bepaal dat inligting vervat in geklassifiseerde dokumente nie in die openbaar bekend gemaak mag word nie, tensy dit gemagtig word deur 'n latere beslissing van die Kommissie of deur 'n hofbevel.

Die Madlanga-kommissie het ook beslis dat hy sal voortgaan met die getuienis van die moordbeskuldigde, Vusimuzi "Cat" Matala, ondanks sy regspan se planne om 'n vroeëre beslissing dringend te laat hersien. Die voorsitter, regter Mbuyiseli Madlanga, het advokaat Anneline van den Heever, se voorleggings ten opsigte van Artikel 204 van die hand gewys. Van den Heever het daarna aangevoer dat hulle toegelaat behoort te word om die besluit in die hof te betwis voordat getuienis aangehoor word. Sy het gesê dat dele van Matlala se getuienis behoort agter geslote deure aangehoor te word, weens beweerde dreigemente teen hom en sy gesin. Matlala het intussen met sy getuienis begin.

Die polisie het 'n soektog van stapel gestuur na drie gewapende verdagtes wat na bewering 16 vroue van sowat 30-duisend rand en selfone beroof het tydens 'n stokvel-byeenkoms by Musiphana, buite Tzaneen in Limpopo. Die polisiewoordvoerder, Malesela Ledwaba, sê die verdagtes het die huis binnegegaan en hul vuurwapens op die vroue gerig en geld geëis. Ledwaba sê hulle het verskeie skote afgevuur voordat hulle in 'n rooi motor sonder nommerplate gevlug het. Hy het gevra dat enigeen met inligting oor die voorval die polisie kontak.

Die dodetal nadat 'n boot met migrante langs die kus van Senegal gesink het, het tot minstens 34 gestyg. Een persoon is gered, en dit is nog nie duidelik hoeveel mense vermis word nie. Die houtboot het tussen die hoofstad, Dakar en die noordelike stad Saint-Luis gesink, onderweg na Spanje se Kanarie-eilande. Senegalese owerhede het Vrydag nog 'n boot met 142 migrante onderskep wat gepoog het om Spanje te bereik. 'n Noodtoestand is intussen die naweek op die Spaanse eiland El Hierro aangemeld, nadat meer as drieduisend-300 migrante sedert die begin van November in sowat 30 bote op die eiland aangekom het. Senegalese owerhede het burgers gevra om nie hul lewens in gevaar te stel in 'n poging om Europa te bereik nie, en het onderneem om toe te slaan op mensesmokkelnetwerke.

RUGBY: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, het slegs twee veranderinge aangebring aan die span wat Vrydagaand by die Stade de France in Parys teen Frankryk te staan sal kom. Die stut Wilco Louw skuif na die beginspan, en Thomas du Toit na die plaasvervangersbank. Grant Williams is uit die span gelaat, terwyl die skrumskakel, Cobus Reinach, ingesluit is op die bank. Die kaptein, Siya Kolisi, lei 'n sterk Springbok-span wat Frankryk moet klop om in die wedloop vir die Nasieskampioenskap te bly.

Deel nou