Skip to content

Stephanie Baartman

AANBIEDERS​

Stephanie Baartman

Stephanie Baartman is ‘n aktrise in die teater, op die grootskerm, en elke aand in ons sitkamers as Lettie in Diepe Waters. Baie sal haar onthou as Bibi in Getroud met Rugby. Hierdie boorling van Humansdorp het grootgeword in die Kaap, en haar dramagraad verwerf aan TUT. Sy is doenig in ‘n verskeidenheid van mediums en sê vir min goed “nee”. Steph, soos sy verkies om genoem te word, is ‘n erkende stemkunstenaar, waar sy nie net speel in Turkse sepies en advertensies nie, maar ook die regie van reekse doen wat in Ethiopiese tale oorgeklank word. Steph het ook ondervinding agter die mikrofoon, en was al te hoor in RSG se radiodramas. Sy sien daarna uit om via die mikrofoon met ‘n diverse gehoor ‘n verhouding te bou, nie net om haar luisteraars te leer ken nie, maar ook dat hulle meer van haar te wete kan kom. Haar eerste liefde is sing, en sy tree op net waar sy gevra word om op te tree, dikwels oor landsgrense heen. Steph sing enige iets van Afrikaans, Engels, Jazz, Ballades, Gospel en Countrymusiek. Sy het grootgeword in ‘n pastorie waar sang en praat en sing en dans altyd aangemoedig is. Steph bly in die kunstenaarswoonbuurt, Melville, in Johannesburg, waar sy Ma is vir haar 17-jarige dogter en 13-jarige seun. Sy sê sy het geen stokperdjies nie, want daar is nie tyd nie. As daar vrye tyd is dan leer sy woorde of spandeer sy tyd saam met haar kinders en geliefdes, stap saam met haar hondjie om Westdenedam, en tower egte Kaapse geregte op.

Deel nou