Tegnologie in oorlog

Met ongeveer 42 lande wat vanjaar in aktiewe gewapende konflikte of oorloë betrokke is, kom tegnologie se rol gereeld onder die loep. In ‘n onlangse artikel in Rapport skryf die ekonomiese historikus, prof. Johan Fourie van Stellenbosch, oor hoe tegnologie oorlog dryf. Tog is daar net ‘n handvol moondhede wat oor supertegnologie beskik, en selfs hulle sukkel teen teenstanders wat nie so tegnologies gevorderde wapentuig het nie. Dink maar aan Israel teen Hamas, en Amerika in Afghanistan. Ons praat hieroor met die hoof van strategiese studies aan die Fakulteit Krygskunde by die Universiteit Stellenbosch, professor Abel Esterhuyse.

SA se aangewese ambassadeur na Amerika

Die afgelope tyd het Suid-Afrika nie ‘n voltydse ambassadeur in Amerika gehad nie, nadat die vorige ambassadeur, Nomaindiya Mfeketo, lang tye met siekteverlof was en toe uiteindelik teruggeroep is. Die Minister van Buitelandse Sake, Ronald Lamola, het gister amptelik bekend gemaak dat Ebrahim Rasool, self ‘n voormalige ambassadeur na Amerika onder die Zuma-regering, weer die Suid-Afrikaanse ambassade in Washington DC sal betrek as ambassadeur.

Land en Sand: Waldimar Pelser

Vandeesweek, 25 jaar gelede, is die eerste programme van die eerste private Afrikaanse televisiekanaal, kykNET, uitgesaai. Die uistaaiveteraan, Marida Swanepoel, wat ‘n lang loopbaan by die SAUK, eers by radio en later TV, gehad het, was deel van die proses. Waldimar Pelser is deesdae die grootbaas van kykNET, en hy het land en sand met Pieter Steyn gesels oor televisie, Afrikaans, sy dae as joernalis in Nigerië en sy studies by Oxford.