Onwettige verbindings oorlaai Eskom se netwerk

Onwettige verbindings en misdadigers wat met meters peuter, oorlaai Eskom se netwerk. Dit veroorsaak onderbrekings en stel mense aan ernstige risiko’s bloot. Hierdie probleem raak elke betalende kliënt. Skole, hospitale en huishoudings voel die impak, en daar is geen eenvoudige oplossing nie. Eskom reageer nou hierop met ‘n landwye uitrol van slimmeters. Dit is tegnologie wat ontwerp is om elektrisiteitsdiefstal op te spoor, verliese te verminder en die betroubaarheid van die netwerk te verbeter. Ons praat hieroor met Ronel Kotze, Eskom se woordvoerder in Gauteng.

Droogte bedreig bekende Karoo-toevlugsoord vir donkies

Die Karoo Donkey Sanctuary op De Rust in die Wes-Kaap staan voor ’n krisis. Met die versengende hitte en droogte wat die streek lamlê, het die 138 donkies, 38 perde en 250 ander diere niks om op te wei nie. Hulle is volledig afhanklik van ingevoerde voer en water. Elke dag is ’n stryd om oorlewing vir van die jong diere wat ontwater langs die pad gevind word en eensame perde soos Mercy. Ons praat met Bradley Bergh, ’n vrywilliger by die toevlugsoord.

Waarom word jong Afrikane by oorlog in Oekraïne betrek?

Meer as 1 400 Afrikane veg glo in Oekraïne namens Rusland. Jong mense van 36 lande word glo verlei met groot beloftes, maar eindig dan op die voorste linies van die oorlog sonder behoorlike opleiding. Die Nigeriese regering maan dat deelname aan buitelandse konflikte gevaarlike gevolge inhou. Ons ontleed die strategiese motiewe agter hierdie werwingspraktyke, en watter implikasies dit vir Afrika en die res van die wêreld inhou met prof. Abel Esterhuyse, hoof van die departement strategiese studies aan die Universiteit Stellenbosch.

Wat jy vandag moet weet 18 Februarie 2026

Die gesprek om die RSG-ontbyttafel begin elke oggend met ‘n oorsig van die dag se hoofopskrifte op plaaslike en internasionale nuuswebwerwe en koerantvoorblaaie.

Monitor 18 Februarie 2026

‘n Beskuldigende vinger word na twee voormalige presidente gewys weens die versuim om apartheidsmisdade te vervolg. Ons praat oor die sogenaamde agterdeur-privatisering van Eskom. Huldeblyke stroom in ná die dood van die Amerikaanse burgerregteleier, eerwaarde Jesse Jackson.

RSG Bekbasaar: EPISODE 14: Die Reine Wynheid – Die baanbrekers

Die een het ‘n professionele tennisloopbaan in Amerika gaan volg, terwyl die ander twee reeds van kindsbeen af geweet het wynmaak is hulle roeping. Drie van Suid-Afrika se beste wynmakers en baanbrekers vir vroue in die bedryf gesels oor die huidige oes en hulle bekroonde loopbane. Rianie Strydom van Cavalli en Strydom Familie-wyne, Elunda Basson van Steenbergwyne en Izele van Blerk van KWV besoek Die Reine Wynheid.