Sterre en Planete

Die Mars Curiosity-verkenningtuig is nou al ‘n jaar op die rooi planeet. Dr. Japie van Zyl van die Jet Propulsion Laboratory in Pasadena, Kalifornië, gesels oor die mylpale wat die tuig reeds bereik het. Hy verduidelik waarom Curiosity net ‘n 100 meter per dag kan aflê. Kobus Olckers gee ook meer inligting oor die omswaai van die son se magnetiese pole en of dit ‘n gevaar inhou.

Rand en sent

Helen Ueckermann gesels met Linette Retief oor hoe ʼn mens uit die dieptes van te veel skuld kan opstaan en jou lewe met ʼn stel nuwe waardes kan aanpak.

Ons en die Onderwys

Dr. Louise van Rhyn se intervensieprogram, Partners for Possibility, maak op voetsoolvlak ʼn wesenlike bydrae tot die onderwys. ʼn Sterk vennootskapsooreenkoms tussen hoofde en sakeleiers is sleutelelemente van dié program.

Leefwêreld van die Gestremde

Vrouedag word elke jaar op 9 Augustus gevier. Fanie du Toit gesels met twee vroue wat op verskillende maniere deur gestremdheid geraak word.

Hoe verklaar jy dit?

Kan ‘n mens oornag grys word? Hoe word boomsoorte geklassifiseer en verwys die name Boekenhout en Beukehout na dieselfde boom? Hoekom het die Britte en die Russe ná die Tweede wêreldoorlog vliegtuie gebou met twee skroewe agter mekaar op dieselfde as, wat in teenoorgestelde rigtings geroteer het?

Taaldinge

Magdaleen Krüger kyk na die vertaling van spyskaarte en kosname van die oorspronklike taal na Afrikaans en praat oor daardie, vir sommige soos Magdaleen, lelike woorde naamlik nasionalisasie en fassinasie.

Oggenddiens

Prof. Nico Botha van die Verenigende Gereformeerde Kerk Middelburg, Nasaret.

RSG Dokumentêr

Ina Strydom kyk na Langenhoven se rol as taalstryder en hoe hy Afrikaanssprekendes aan die lees gekry het. Langenhoven is vanjaar 140 jaar gelede gebore.