Radioteater

‘n Stukkie steenkoolstof beland in ‘n vrou se oog. ‘n Dokter help haar op ‘n besige stasie om die irritasie uit haar oog te kry. Dit is liefde met die eerste oogopslag. Die probleem is egter dat albei “gelukkig” getroud is. Hoe hanteer hulle hierdie oorrompelende én geheime liefde sonder om hul eie lewens te verwoes?

Skrywers en Boeke

Ilse Salzwedel gesels met Cecilia Brits van LAPA oor die goeie verkope van ontspanningsfiksie ten spyte van die ekonomie. Ilse gesels ook met Carie Maas oor Koljander, haar debuutroman, en met Eben Venter oor sy jongste roman, Wolf wolf. Kobus Burger gesels met Johan Myburg oor internasionale letterkunde, en Corina van der Spoel en prof. Willie Burger gesels verder oor die kortverhaal as kunsvorm.

Geestesgesondheid

Het jy ‘n hol kol op die maag? Slaap jy slegter as gewoonlik? Is jy die heeltyd bekommerd? Hierdie simptome mag dalk Algemene Angs wees. Dit is ‘n diagnoseerbare toestand wat jou lewe erg kan beїnvloed sonder dat jy dit besef. Ons ontmoet André en sy vrou van 37 jaar, Erna. André is 20 jaar gelede medies ongeskik verklaar as gevolg van Algemene Angs.

Kommentaar

Ontleders neem die week se nuusgebeure in oënskou.

Sterre en Planete

Heelwat reaksie word ontvang op die kenwysie van Sterre en Planete. Die span vertel hoe die melodie saamgestel is en waar die geluide van die sterre, wat deel daarvan uitmaak, kom. Willie Koorts gesels ook oor komete. Wat byvoorbeeld is die verskil tussen ‘n komeet en ‘n asteroïde?

Kruis en dwars 16 Junie 2013

Johan van Lill gesels met ds. James MacKay en twee tieners van verskillende geloofsgemeenskappe oor hoe hulle hulle geloof beleef. Tasneem Jooste is van die Moslemgemeenskap en is saam met Eugan Marthinus wat ‘n Christengelowige is, in dieselfde skool. Hulle vertel hoe hulle oor geloof dink.

Rand en sent

As jy vassit met jou versekeraar oor die uitbetaal van ’n eis of dalk die gehalte van herstelwerk wat aan versekerde items gedoen is, kan die Ombudsman vir Korttermynversekering gratis namens jou tussenbeide tree.

Ons en die Onderwys

Nasionale Jeugdag word landswyd op 16 Junie gevier en dis veral jongmense se passie, toegewydheid en onwrikbare geloof in dit wat reg is, wat erkenning kry. Leerders van die Hoërskool Zwartkop val in dié kategorie en hulle sukses is legendaries! Verteenwoordigers van hierdie uitblinker-skool gee jou ʼn kykie agter die skerms.